Die bestuurder van die BMW waarin ’n 18-jarige matriekleerder van Oudtshoorn, Marilize Nortier, op 22 September 2019 gesterf het, Sydney Berry (23), moet op 14 Desember weer in die hof op Oudtshoorn verskyn vir afskrifte van die dossier en instruksies van die beskuldigde aan sy regsverteenwoordiger.
Hofverrigtinge in dié saak het verlede Donderdag (26 November) afgeskop met Berry wat slegs vlugtig in die hof verskyn het nadat die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) in September beslis het dat hy vervolg moet word vir strafbare manslag, alternatiewelik roekelose of nalatige bestuur, en versuim om by ’n ongelukstoneel hulp te verleen na ’n botsing.
Berry se regsverteenwoordiger, Bulelani Bans van Dercksen Prokureurs Ingelyf op Knysna, het voordat hofverrigtinge afgeskop het die media versoek om nie foto’s van sy kliënt te neem of te publiseer nie. Hy het daarna die hof meegedeel dat hy bekommerd is oor die veiligheid van Berry wanneer hy vir die saak na die hof moet kom. Volgens hom het Berry se pa hom ingelig dat dreigemente ontvang is dat Berry “uitgesorteer” gaan word.
Landdros René Gerber het dit aan Bans gestel dat hy nie die aangeleentheid gaan hanteer nie en die korrekte proses in so ’n geval gevolg moet word.
Die motor waarin Nortier ’n passasier was, het die aand tussen Oudtshoorn en die Kango Grotte die pad verlaat en in ’n watervoor beland. Berry het toe glo die toneel verlaat en later weer teruggekeer.
Nortier was steeds in die voertuig vasgegordel toe dit ure later uit die water gesleep is. ’n Nadoodse ondersoek het bevind dat sy verdrink het. (Deur Garnett Wicomb)