’n “Cooler box”-fees in Ladismith en ’n matriekpartytjie in Knysna was twee van verskeie kleiner partytjies in die Tuinroete Distrik wat tot heelwat Covid-19-infeksies gelei het, sê die Wes-Kaapse Minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell.
Bredell het gister gesê infeksies en hospitalisasies in die Tuinroete-distrik neem vinnig toe, met bykomende mediese toerusting en mediese personeel wat na sleutelareas ontplooi is.
Volgens Bredell is daar kommer oor die wyse waarop partytjies en ander groot sosiale byeenkomste lei tot verskeie bevestigde Covid-19-infeksies onder diegene wat dit bywoon. Hy sê die organiseerders van die Rage in Plettenbergbaai het reeds aangedui het dat hulle dié byeenkoms van jongmense tot uitgestel het.
“Die provinsie doen ’n beroep op die publiek om nie meer geleenthede met groot getalle mense aan te bied of by te woon nie,” sê Bredell.
“Dit is nie nou die tyd om groot partytjies te hou nie, ongeag die rede. As ons ’n veilige, gelukkige feestyd wil hê, is dit van kardinale belang om nou op ons hoede en verantwoordelik te wees.”
Hy het mense aangemoedig om oorvol plekke, beperkte ruimtes en noue kontak te vermy.
“Was of reinig jou hande gereeld en dra ’n masker wanneer jy in die openbaar uitgaan, en onthou dat dit jou mond en neus volledig moet bedek.” (Deur Liesel le Roux)