Ontmoet Oudtshoorn se aartsbewaarder, James Williams!

JAMES WILLIAMS maak nie net bymekaar nie; hy herstel ook. Hy sê hy huiwer tussen opgaar en bewaar, want hy kan ’n “ou ding” maar net nie uitlos nie. Baie van die ou goed wat hy bekom, word gerestoureer, maar nie alles nie, vandaar sy effense onsekerheid oor waar hy regtig inpas.

James is Pretorianer gebore en getoë, maar deesdae is hy ’n byeboer op Oudtshoorn. En as hy nie met sy bye en sy heuning werk nie, restoureer hy van die ougoed wat hy opgaar. Die gastehuis wat hy en sy seun bedryf, begin nou al soos ’n museum lyk.

Vir die laaste klompie skoue op Villiersdorp het James die erfgoeduitstallings gekomplementeer met uitgebreide versamelings. Eers was dit koffie­meultjies, daarná appelskillertjies en onlangs skale.

Al hierdie items was noukeurig gerestoureer, eintlik professioneel gerestoureer. En een jaar het hy nog die Enjin van die Skou ook uitgestal.

Hoe het James by ons klomp “trekkermanne” betrokke geraak?

In 1999 is James, wat toe nog in Pretoria ge­woon het, genooi om sy versameling paraffienblaaslampe (die bloulampe van weleer) by die Great 100 Working by Sandstone Estates uit te stal. En net daar byt die gogga hom.

Die geesdriftige omies met hul trekkers en enjins het hom geval. Boonop was die klank van al daardie enjins musiek in sy ore. By die huis gekom het hy sy oom se Farmall Cub gerestoureer en daarmee aan die Great 400 Working gaan deelneem.

Maar dis op Oudtshoorn waar James sy liefde vir ougoed/erfgoed regtig met sy nuutgevonde liefde vir enjins en trekkers gekombineer het. In sy versameling het hy nou al ’n kruiptrekker, vier gerestoureerde enjins, ’n stuk of 12 ongerestou­reerde enjins en heelwat plaasimplemente.

Seker die mees besondere plaasimplement in sy versameling is die Walter Thomas-voerkerwer, aangedryf deur ’n Walter Thomas-perderat. Dié implemente is in Reading, Engeland vervaardig, maar Thomas, handelaar op Oudtshoorn tydens die volstruisveer-bloeitydperk aan die begin van die twintigste eeu, het sy naam in die gietstukke laat aanbring. Op hierdie implemente verskyn dus die naam, Walter Thomas, Oudtshoorn. Ryk volstruis­boere het dit so verkies.

Tussen sy sowat 40 skale is die een wat uitstaan sekerlik die oudste een. Dis ’n yslike armskaal van ’n paar eeue oud. Hy het net die balk met sy besonder mooi smeedysterwerk gevind en moes letterlik ’n skaal herskep deur die voetstuk, bakke en kettings self te voorsien. Reg opgestel reageer die skaal op die gewig van ’n dosie vuurhoutjies!

James het ’n honneursgraad in natuurbewaring aan Tukkies behaal. Nadat hy 17 jaar as ekoloog in diens van die (ou) Transvaal Natuurbewaring ons natuurlike erfenis help bewaar het, bewaar hy nou ons kulturele erfenis op ’n uitnemende manier op Oudtshoorn.

Hy het formeel geleer om ons natuurlike erfenis te bewaar, maar het homself geleer om op ’n hoë vlak ons kulturele (mensgemaakte) erfenis te bewaar.

(Dié bydrae van Hennie Richter is oorspronklik vir The Vintage Tractor Club of South Africa – SAVTEC – se nasionale nuusbrief geskryf.) (Deur Hennie Richter)