DIE vierde “Oudtshoorn Dieredag” is om die draai, en die staatsveearts en Animal Care Team (ACT, ’n nie-winsgewende dierewelsynorganisasie op Oudtshoorn) gaan dit met ’n dag vol pret en plesier vir jonk en oud, mens en dier, vier!
Oudtshoorniete word genooi om Saterdag, 17 September, van 09:00 tot 15:00 die dag saam te kom geniet by die staatsveeartskantoor in Van der Rietstraat. Alles is ten bate van dierewelsyn op Oudtshoorn en ACT se sterilisasieklinieke.
“ACT werk al sedert 2017 saam met die staatsveearts en met hul steun het ons ’n gemeenskapswelsynkliniek op die been gebring om mense te help wat nie privaat veeartse kan bekostig nie, met die doel om hul diere te laat steriliseer en beter na hul diere te kan omsien. Ons is baie opgewonde oor ons Dieredag,” sê Vanessa Engelbrecht van ACT.
Volgens Engelbrecht is dié jaarlikse fondsinsameling juis ten bate van die gemeenskapskliniek, want, sê sy, almal verdien die voorreg om ’n troeteldier te hê waarna hulle kan omsien.
ACT het al vanjaar deur hul gemeenskapsklinieke reeds 228 sterilisasies, 789 inentings teen onder meer hondsdolheid, 608 ontwurmings, 410 bosluis- en vlooibehandelings en 218 ander behandelings en operasies verrig.
Benewens gratis hondsdolheidinentings asook vlooidip en naelknip vir honde teen ’n skamele R5 sal daar onder meer kos, lekkernye, tweedehandse goedere en speelgoed te koop wees; asook ’n gelukkige trekking! Die kinders gaan vermaak word met ’n gesigverftafel, towerkunsvertoning en ’n loopplankkompetisie.
Honde moet aan ’n leiband gehou word en moet katte in ’n mandjie wees. (Deur Stefan Skapie Goosen)
