Ontdekker van wonderskone Kango 2 en 3 sterf

EEN van die legendes van die Kango Grotte, Lu­ther Terblanche, is vroeër vandeesmaand in die Millenniumpark-versorgingseenheid op Oudts­­hoorn oor­lede. Terblanche (86), wat op 4 September gesterf het, was een van die ontdekkers van Kango 2 én 3 – ’n tweede en derde groep grotte wat deel uitmaak van die Kango Grotte.

Terblanche was nooit getroud nie.

Dié Oudtshoorniet het as gids en bestuurder by die Kango Grotte gewerk, en was die enigste mens wat by die ontdekking van Kango 2 én Kango 3 betrokke was; grotte wat volgens die enkelinge wat dit al betree het, onbeskryflik mooi is.

In 1972 het hy, James Craig-Smith en Dart Ruiters ’n toe deurgang geopen wat Kango 2 blootgelê het. Aan die einde van Kango 2 is ’n skag wat 20 m na onder gaan tot in ’n kamer vol water.

Kango 3 met die Wondergrot daarbinne is in Augustus 1975, tydens ’n simposium oor grotbiologie deur ’n span bestaande uit onder meer Terblanche, Hans Oosthuizen en die stadsklerk Michael Schultz, ontdek nadat die water uit die kamer ge­dreineer is en hulle deur ’n gang wat gewoonlik onder water is, kon kruip.

’n Joernalis van Huisgenoot wat dié ontdekking meegemaak het, skryf op 17 November 1972 dat “jy die name van al die mooiste en mees beskrywende woorde moet ken” om die skoonheid van die Wondergrot aan iemand te kan oordra.

Van die hoofingang van die Kango Grotte tot by die Wondergrot kruip en klouter ’n mens byna 2 000 meter onder die aarde in.
• Bronne: Dr Stephen Craven, lid van die Cape Peninsula Spelological Society (CPSS); Huis­genoot (17 November 1972); wikipedia.org. (Deur Liesel le Roux)

2 Comments on "Ontdekker van wonderskone Kango 2 en 3 sterf"

  1. Michel Lareman | 09/26/2020 at 12:14 |

    As kind het ons altyd vir hom genoem ‘ ou gids”

  2. Stephen Craven | 09/26/2020 at 11:46 |

    Thank you for citing me as one source for your obituary of Luther Terblanche. I note that you also cite Wikipedia. Its story about the discovery of Cango Cave is far from correct. Would you like me to send the true story?

Comments are closed.