Ons het geweet ons moet help, sê seuns

Sarel van den Heever (15, links) en David Sandison (14) wat verlede week ’n noodsituasie geïdentifiseer en ingespring het om iemand se lewe te red. Foto: Liesel le Roux

HULLE het net geweet hulle moet iets doen en kan nie net verbystap nie, het twee tieners vandeesweek aan Die Hoorn vertel nadat hulle verlede week gehelp het om ’n man se lewe te red.

Die seuns, Sarel van den Heever (15) en David Sandison (14), was op pad huis toe van ’n gimnasium af toe hulle ’n voertuigenjin hoor dreun en iets soos rook onderdeur ’n garagedeur sien uitkom het.

Hoewel hulle ’n oomblik gehuiwer het of hulle nie maar moet verbystap nie, het Sarel ’n selfoon onderdeur die garagedeur gedruk om ’n video te neem sodat hulle kon seker maak wat aan die gang was. Hy het vasgestel dat daar waarskynlik iemand in die voertuig was. Die seuns het daarop alles in hul vermoë begin doen om hulp te kry.

Hulle het onder meer die polisie en ambulans gebel, ’n voetganger genader vir bystand en oor die tuinmuur gespring om binne hulp te gaan soek, terwyl David ook op sy fiets gespring en na die hospitaal begin ry het. Langs die pad het hy ’n polisiebeampte teengekom wat uiteindelik vinnig hulp kon ontbied.

• Die insittende van die voertuig is gehospitaliseer en sou vandeesweek ontslaan word. (Deur Liesel le Roux)