Te voet Kaap toe vir Kinderhospitaal

Ao Brian Daniels (52) en sy dogter, Isabella (5), Saterdag by die Queen’s Mall waar hy lootjies verkoop het om fondse in te samel vir die Rooikruis Kinderhospitaal in Kaapstad. Foto: Stefan Skapie Goosen

BRIAN DANIELS, adjudant-offisier by die Oudts­­hoorn Polisie en bekende in stap- en draf­kringe, gaan op 14 September die allemagtige taak aanpak om van Oudtshoorn na Kaapstad toe te stap vir liefdadigheid.

Hierdie 52-jarige kanniedood, wat reeds 28 jaar lank as polisiebeampte die gemeenskap dien, sê die idee vir sy staptog het reeds in 2019 ontstaan. Kinders lê nog altyd na aan sy hart, hy self is immers ’n pa, en tydens sy jonger dae as polisieman in die Kaap het hy as vrywilliger baie tyd by die Rooikruis Kinderhospitaal spandeer. Hy het gesien hoe ’n bietjie vreugde baie kan beteken vir siek kinders.

Die belewenis by die hospitaal het al die jare by hom gebly, en toe hy hoor dat die Kinderhospitaal ’n terapeutiese speelarea wil inrig vir kinders, wou hy onmiddelik iets doen. “Al het die Covid-pande­mie my planne bietjie deurmekaar gekrap, was ek nog altyd vasbeslote om die staptog vir die kinders aan te pak, en nou kan ek dit uiteindelik doen!”

Die koste van die speelarea beloop miljoene rande, maar vir Daniels is dit belangrik dat hy ’n bydrae lewer, en soveel fondse as moontlik daarvoor insamel. “Alle fondse wat ek insamel gaan direk aan die projek. Tydens my dae as vrywilliger by die hospitaal het ek die nood van hierdie kinders raakgesien, hulle het regtig hulp nodig. Kinders regoor die land het hulp nodig, maar omdat baie van hulle na die Rooikruis Kinderhospitaal gestuur word vir behandeling, het ek gedink hierdie is die perfekte manier om my deel te doen,” het hy gesê.

Sy Karoo to Coast for Children Walkathon, wat op 14 September afskop, sal hom te voet al die pad Kaap toe neem en hopelik op 25 September eindig.

“Ek is juis ’n langafstandatleet, en is deel van die Oudtshoorn Polisie se endurance walking-span, so ek oefen basies al jare hiervoor. Mense sien my seker gereeld op die Calitzdorp- of George-pad terwyl ek oefen. Baie het al gewonder hoekom ek so ver stap, maar dit was alles deel van my voorbereiding!”

Die fisieke voorbereiding is volgens Daniels die maklike deel, maar om sy kop reg te kry daarvoor is ’n ander storie. “Ek gebruik musiek hiervoor. Love ballads en musiek uit veral die sewentigs en tagtigs is my gunsteling. Ook deur te ontspan en tyd saam my eie kinders deur te bring, moedig my baie aan!”

Volgens hom is sy gesin ook baie opgewonde oor sy missie, en ondersteun hom te volle.
Hy mik om sy staptog van sowat 420 km in 12 dae af te lê, wat beteken dat hy omtrent 50 km per dag wil afstap. ’n Mens kan dit natuurlik nie man-alleen aanpak nie, en volgens Daniels sal hy ’n ondersteuningsvoertuig en -span by hom hê. Die enigste deel van sy roete wat hy in ’n voertuig sal voltooi, is deur die Hugenotetonnel.

Om fondse in te samel, verkoop Daniels tans lootjies van R100 elk vir ’n gelukkige trekking wat op 25 September sal plaasvind. Elke prys wat te wen is, het ’n waarde van R500 of meer!

Daniels en sy span sal Woensdag 14 September in Calitzdorp aankom – sy eerste stop na sy wegspring in Oudtshoorn, en die volgende dag – 15 Septempber – in Ladismith. Daar sal ook kaartjies vir die lootjie te koop wees.

Belangstellendes kan Daniels by sel 060 523 4786 skakel om meer uit te vind of om ’n bydrae te lewer. (Deur Stefan Skapie Goosen)