Huurders en verhuurders kry hulp nader aan die huis

By die amptelike opening van die nuwe Huurbehuisingstribunaalkantoor in Oudtshoorn Maandag 17 Augustus is van links: Marais Kruger, burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit; Tertuis Simmers, Wes-Kaapse Minister van Infrastruktuur; Jan van der Ross, burgemeester van Oudtshoorn; Clayton Poole, voorsitter van die Huurbehuisingstribunaal; en Veronica Michaels, onderburgemeester van Oudtshoorn. Foto verskaf.

Huurders en verhuurders in Oudtshoorn en die omliggende Klein Karoo het nou plaaslik toegang tot gratis advies en hulp met huurbehuisingskwessies.

’n Nuwe kantoor van die Wes-Kaapse Huurbehuisingstribunaal (RHT) is Maandag, 17 Augustus, amptelik in Asstraat, Oudtshoorn, geopen.

Die kantoor bring ’n provinsiale diens wat voorheen minder toeganklik vir inwoners van die streek was, nader aan die gemeenskap en beteken dat inwoners nie meer noodwendig ver hoef te reis om hulp met huurgeskille te kry nie.

Wes-Kaapse Minister van Infrastruktuur Tertuis Simmers het die kantoor Maandag amptelik geopen.

Volgens die Departement van Infrastruktuur sal huurders en verhuurders hier persoonlike advies oor hul regte en verpligtinge kan kry.

Die kantoor sal ook help om geskille vroegtydig op te los en sake, waar nodig, formeel na die Wes-Kaapse Huurbehuisingstribunaal verwys.

“Hierdie kantoor bring gratis, professionele advies en konflikresolusie reg na die Klein Karoo, sodat huurders en verhuurders hul regte kan beskerm,” het Simmers gesê.

Volgens Simmers behoort inwoners van Oudts-hoorn nie na ’n groot sentrum te reis om toegang tot ’n provinsiale diens te kry wat daarop gemik is om hul regte rakende huureiendom te beskerm en geskille op te los nie.

Die tribunaal funksioneer ingevolge die Wet op Huurbehuising en het ten doel om geskille op ’n billike manier op te los.
Simmers het benadruk dat die tribunaal nie ten doel het om kant te kies tussen huurders en verhuurders nie.

Volgens hom moet verantwoordelike eiendoms-eienaars sekerheid oor hul beleggings hê, terwyl huurders met waardigheid en billikheid behandel moet word.

Die nuwe Oudtshoorn-kantoor maak dit moontlik om advies en ondersteuning nader aan die huis te kry en kan help dat huurgeskille vroeër aangespreek word voordat dit groter probleme word.

Be the first to comment on "Huurders en verhuurders kry hulp nader aan die huis"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*