Ladismith – Die Kroon van die Klein Karoo

Aan die voet van die Swartberg lê die skone Ladismith. Foto: Carl Swart Photography (067 620 5928)

MET besonderse mense, kaas en wyn, en wyd bekend as Die Kroon van die Klein Karoo, lê die pragtige dorpie van Ladismith knus tussen die R62 en die voet van die magtige Swartberge. En dit neem slegs een besoek aan hierdie Kannaland-juweel om te besef dat daar veel meer as blote piekniek-bestandele in hierdie dorpie se murg sit.

Die plaas, Elandsvlei, wat in 1852 reeds bestem was om ’n dorp se naam te dra, het in 1862 uiteindelik ’n volwaardige Wes-Kaapse munisipaliteit geword.

Die naam Ladismith is op sigself van die agbare Sir Harry Smith se edele vrou, Lady Juana Maria Smith, afkomstig. Dit is ook wel nie die enigste plek in Suid-Afrika wat haar naam sou dra nie, met Ladysmith in KwaZulu-Natal wat as naamgenoot dien.

Buiten Ladismith se beroemde kaas en wyn, staan dit ook bekend as ’n belangrike rolspeler in die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf, en ook as ’n bobaas produseerder van onder meer Muscadel en “pot-stilled” (potketel) brandewyn.

Maar met haar ligging aan die suidelike onderkant van die magtige Swartberge, en haar nabyheid aan Calitzdorp, Vanwyksdorp, Riversdal, Barrydale en, na die noorde, Laingsburg, is Ladismith die perfekte basis vir diegene wat graag die Klein Karoo en die res van die R62 wil verken – hetsy toeris of binnelander.

Jan-Dirk Brak van Ladismith Toerisme sê hierdie dorpie het waarlik baie om te bied, en dat Ladismith nie onderskat moet word nie. “Ladismith was lank die stiefkind wanneer dit kom by toerisme-aktiwititeite in Kannaland en langs die R62, maar deesdae is daar ’n groot beweging daarna om ’n suksesvolle bergfiets-, bergklim- en stapsektor te skep. Ons werk ook daaraan om ’n ‘motocross/off-road’-motorfietsmark op die been te bring,” voeg hy by.

Dit is ook nie net die kaas, wyn en natuurskoon waarop mens moet fokus as jy Ladismith besoek nie, want volgens Jan-Dirk is die mense van Ladismith net so ’n groot lokpunt van die dorp. “Almal móét by Karoo Vine stop, met Tannie Elsa en Frikkie se kennis van Klein Karoo-wyne wat enig in hul soort is. Dit is ’n moet om koek te koop by die Rooi Koskas, en ’n koffie by Posthouse of Sophia’s te gaan drink.”

Buiten hierdie lekker, karaktervolle instansies, sê Jan-Dirk dat ’n wynproe en middagete by Hillock Wines Restaurant op Mymering Wine and Guest Estate enige gas sal verbaas, met van die mooiste en indrukwekkendste uitsigte van Ladismith se omliggende berge.

Vir stapgeesdriftiges, of vir diegene wat die omgewing te voet wil verken, stel hy voor mens stap die “Stanley se Liggie”-roete, of selfs die Hoeko Vallei-pad. “Dit is ekstra-mooi in die lente met al die vrugteboorde in bloeityd.”

Indien jy nog meer van die omgewing wil verken, maar nie so lus is om te stap nie, kan daar met Jan Ellis gereël word vir ’n fietsrit met sy FatBike Adventures. En na ’n lang dag se avontuur en verkenning is ’n “sundowner G&T” by Gypsys die perfekte einde tot jou dag.

Die vreedsame, vriendelike eenvoud van die Klein Karoo-lewe kan vir toeriste – hetsy van die buiteland of Suid-Afrika se stedelike gebiede – net so ’n welkome eienskap van Ladismith wees.

“Die dorp is nie oorval deur voertuie en mense, en selfs oorweldigende keuses vir eet- of kuierplekke nie. Ons doen die ‘basics’ reg, en ons doen dit goed! Towerkop is werklik ook iets om te aanskou – die prentjie is elke minuut van die dag anders en spesiaal.

“Deur ons toerismekantoor te kontak kan besoekers ook meer inligting oor die verskillende stap- en berfietsroetes in hierdie skilderagtige omgewing kry.”

Nes die mense van Ladismith, sê Jan-Dirk, is Ladismith se eetplekke enig in hul soort. Daar is Gypsy’s Gin Bar waar jy in vrede op die stoep kan vertoef en na Towerkop kan staar – hier kan jy ook jou sosiale media bietjie opkikker met ’n foto by Gypsy’s se “cool hippie Mini”; ’n opgetooide ou Mini Cooper.

Towerkop is volgens Jan-Dirk letterlik die Kroonjuweel van die Klein Karoo, en het ’n manier om enige iemand tot ruste te bring.

Jan-Dirk stel ook voor dat jy nie Olive Garden se pizza misloop nie, “want dit is altyd ’n ‘vibe’!”; en moenie vergeet van Kanna Kombuis se hoender schnitzel met kaassous, wat ander restaurante sal laat bloos, nie! Besoekers moet ook nie verby plekkies soos Stanley’s of Capones loop sonder om daar in te loer nie.

“Daar is so baie om te doen, soveel plekke om te besoek, en elke winkel- of restauranteienaar of kelner het sy eie weergawe oor waarom Ladismith ‘lekke’ is. Knoop ’n geselsie met ’n ‘local’ aan in die tou by Spar of by die Apteek – ons is lekker mense. Lief vir gesels en lief vir ons dorp!

“Inwoners van die dorp is besig om op te staan en saam te staan tot voordeel van die dorp. Ons laat nie toe dat die slegte nuus ons onderkry nie en ons gaan self vir ons inwoners werk skep en ons dorp verfraai!”

Die plaaslike toerismeburo het onlangs ook ’n vars, nuwe baadjie aangetrek wat pas by inwoners se uitkyk op hul dorp.

“Dit is ’n baie opwindende tyd, en die drie pilare waarop toerisme staan gaan in die volgende paar maande sterk te vore kom. Ons gaan ook saam met die ander dorpe in Kannaland werk, en werklik toerisme dryf en volhoubare aktiwititeite op die been bring!”

• Volg Ladismith Toerisme op Facebook. (Deur Stefan Skapie Goosen)