Wanneer ’n slaggat nie herstel word nie, ’n straatlig nie werk nie of ’n belangrike besluit in die raad geneem word, is die vraag dikwels: Wie is eintlik verantwoordelik?
Met die volgende plaaslike regeringsverkiesing wat nader kom, is dit ook belangrik dat inwoners weet wat die verskillende politieke ampsbekleërs én die munisipale administrasie se rolle behels.
Oudtshoorn Munisipaliteit se goedgekeurde rolle en verantwoordelikhede van politieke strukture help om die onderskeid te verduidelik.
Die burgemeester: Die uitvoerende burgemeester staan aan die hoof van die munisipaliteit se politieke uitvoerende bestuur. Die burgemeester gee politieke leiding, speel ’n belangrike rol in die munisipaliteit se beplanning en begroting en hou toesig oor die uitvoering van munisipale prioriteite.
Die speaker: Die speaker is verantwoordelik vir die behoorlike funksionering van die munisipale raad. Die speaker lei raadsvergaderings en moet toesien dat die raad se reëls en prosedures nagekom word en dat vergaderings ordelik verloop.
Die raadslid: ’n Wyksraadslid is ’n belangrike skakel tussen inwoners en die munisipaliteit. Raadslede verteenwoordig inwoners se belange, neem deel aan raadsbesluite en moet gemeenskapskwessies binne die munisipale strukture opper.
Dit beteken egter nie dat ’n raads-lid self ’n slaggat herstel of ’n gebarste waterpyp regmaak nie. Die raadslid se rol is onder meer om inwoners se probleme na die regte strukture te neem en daarop op te volg.
Die munisipale bestuurder: Die munisipale bestuurder is nie ’n verkose politikus nie, maar staan aan die hoof van die munisipale administrasie. Die administrasie is verantwoordelik vir die uitvoering van raadsbesluite en die daaglikse bestuur en funksionering van die munisipaliteit.
Kortom: die politieke strukture neem besluite en hou toesig, terwyl die administrasie verantwoordelik is vir die uitvoering daarvan.
Vir inwoners is dit ’n belangrike onderskeid. Om te weet wie waarvoor verantwoordelik is, help inwo-ners nie net om hul probleme by die regte deur te lê nie, maar ook om te weet wie hulle vir besluite en dienslewering tot verantwoording kan roep.
Wie doen wat in jou munisipaliteit?
Foto: Oudtshoorn Munisipaliteit
Be the first to comment on "Wie doen wat in jou munisipaliteit?"