Oudtshoorniete tel die koste ná byna 90 uur sonder krag
Oudtshoorn en omliggende gebiede was vir vier dae sonder elektrisiteit nadat Eskom se hooftoevoerlyn na die dorp gefaal het. Die krag het omstreeks 03:00 op Saterdag, 15 Augustus, afgegaan.
Eskom het Dinsdag, 18 Augustus, omstreeks 19:45 aangekondig dat die toevoer herstel is, maar inwoners in verskeie dele van Oudtshoorn het eers nader aan 22:00 weer krag gehad. Vir hulle het die onderbreking sowat 91 uur geduur.

Sommige inwoners moes van hul maandelikse inkopies weggooi na yskaste afgeloop het. Foto verskaf.
Teen daardie tyd het die krisis huishoudings, ondernemings, toerisme, landbou en noodsaaklike dienste geraak.
Besighede moes duisende rande aan diesel en petrol bestee om kragopwekkers aan die gang te hou, terwyl ander nie normaal kon handel dryf nie.
Besighede tel groot verliese
’n Handjievol plaaslike besigheidseienaars wat bereid was om hul syfers anoniem met Die Hoorn te deel, het saam ’n finansiële impak van ongeveer R500 000 aangemeld.
Dit verteenwoordig slegs ’n klein deel van Oudtshoorn se sakegemeenskap; die dorp se volle ekonomiese verlies moet nog bepaal word.
Sommige ondernemings kon hul dieselverbruik danksy sonkrag beperk, maar moes kragopwekkers aanskakel wanneer hul batterye uitgeput was. Die skade strek ook verder as brandstofuitgawes.
Verkope van bederfbare produkte het waarskynlik afgeneem omdat inwoners sonder werkende yskaste en vrieskaste nie die produkte veilig kon berg nie.
Wisselvallige selfoon- en internetseine het ook elektroniese betalings, aanlyn bestellings en kommuni- kasie bemoeilik.
Die verliese kan nie bloot deur prysverhogings verhaal word nie. Een besigheidseienaar het gesê dit is nie sy kliënte se skuld dat die krag af was nie en dat hy daarom nie die ekstra koste op hulle kan afskuif nie – veral omdat hulle self deur die kragkrisis geraak is.
’n Onderbreking van dié omvang kan ook vertroue in die dorp se infrastruktuur en diensbetroubaarheid skaad, met persepsies wat moontlike langtermyngevolge vir beleggings, toerisme- en landbousektore inhou.
Besigheidskamer lê skuld voor Eskom se deur
Abri Ferreira, voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer (OBK), lê die verantwoordelikheid vir die kragonderbreking voor Eskom se deur. Volgens hom was die faling die gevolg van verouderde infrastruktuur en gebrekkige instandhouding, en nie ’n storm of ander buitengewone weersomstandighede nie.
Van die pale dateer moontlik uit die 1980’s en is reeds sowat vier dekades in gebruik. Hy sê pale het ’n beperkte leeftyd en moet behoorlik in stand gehou en betyds vervang word.
Ferreira het ook kritiek uitgespreek omdat herstelspanne en toerusting van Kaapstad af gebring moes word. Hy bevraagteken waarom die groter Tuinroete-streek nie oor voldoende toerusting beskik om sulke noodsituasies vinnig te hanteer nie.
“Dit is nie ’n vraag óf ons weer ’n probleem gaan hê nie, maar wanneer. Dit moet dringend deur Eskom aangespreek word,” het hy gesê.
Volgens Ferreira kan die totale skade aan Oudtshoorn se ekonomie in die miljoene rande beloop. Dit sluit besigheidsverliese en verdere skade weens vandalisme aan infrastruktuur tydens die onderbreking in.
Wat het verkeerd geloop?
Volgens Eskom is die onderbreking veroorsaak deur ’n strukturele faling op sy 132 kV-hooftoevoerlyn na Oudtshoorn. Drie vyfpaalstrukture het omgeval. Die herstelspan het harde, rotsagtige grond en die beskikbaarheid van toerusting as van die tegniese uitdagings uitgewys.
Verskeie beraamde hersteltye is deur die loop van die vier dae gegee, maar die werk het telkens langer geneem. Die strukture moes vervang en die kragdrade weer veilig aangebring en gespan word voordat die netwerk aangeskakel kon word.
Die Hoorn het by ’n betroubare bron bevestig dat daar vroeër vanjaar twee keer kommer direk aan Eskom oor die integriteit van die eerste struktuur uitgespreek is. Daar is gewaarsku dat die paal gevaar loop om om te val.
Die bron het ook bevestig dat dit wel die betrokke struktuur was wat eerste gefaal het, waarna die twee aangrensende strukture saamgetrek is.
Kommunikasie tydens die krisis
Die Kantoor van die Uitvoerende Burgemeester raadslid Jan van der Ross, het op Dinsdag, 18 Augustus, ’n mediaverklaring uitgereik.
Die munisipaliteit het gesê die faling van Eskom se infrastruktuur was buite sy direkte beheer, maar erken dat die dringendheid, koördinering en deursigtigheid van sy reaksie wel binne sy beheer was.
Volgens die verklaring was munisipale spanne in gereelde kontak met Eskom en is personeel en logistieke onderstening beskikbaar gestel. Betroubare inligting sou deur amptelike kanale met inwoners gedeel word.
Die munisipaliteit se verklaring het gekom te midde van toenemende kritiek oor die kommunikasie gedurende die krisis.
Die Hoorn het aanvanklik geen proaktiewe kommunikasie van die munisipaliteit ontvang nie. Eers nadat die koerant op die munisipaliteit se WhatsApp-mediagroep om inligting gevra het, is opdaterings deur die mediabeampte verskaf.
Dit het hoofsaaklik uit Eskom se verklarings bestaan, terwyl besonderhede oor die breër plaaslike noodreaksie beperk gebly het.
Ferreira van die OBK het op 18 Augustus ook formeel aan die munisipale bestuurder, Mkhululi Yekani, geskryf en meer gereelde, duidelike en deursigtige kommunikasie versoek.
Volgens Ferreira het die gebrek aan tydige en konsekwente inligting van die munisipaliteit en Eskom die krisis vererger en inwoners en ondernemings se noodbeplanning bemoeilik.
Die OBK het gevra vir gereelde opdaterings oor die herstelwerk en verwagte hersteltyd, of eerlike en gestruktureerde vorderingsverslae indien ’n betroubare tyd nie bepaal kon word nie.
In ander korrespondensie wat Die Hoorn onder oë gehad het, is ook kommer uitgespreek oor die moontlike uitwerking op rioolstelsels, waterpompe, telekommunikasie, veiligheid en plaaslike ondernemings.
Daarin is aangedui dat minister Anton Bredell gekontak en versoek is om die saak op ’n hoër vlak met Eskom op te neem. Die Hoorn kon nie onafhanklik bepaal watter invloed sy betrokkenheid op die herstelproses gehad het nie.
Bekende inwoner Albert Nokoli het Woensdag, 19 Augustus, in ’n Facebook-plasing ook gevra of ’n Joint Operations Centre (JOC) geaktiveer is, of reservoirs en rioolpompstasies gemonitor is, en of voldoende kragopwekkers en diesel beskikbaar was.
Hy het verder gevra of die SAPD, die Tuinroete- Distriksmunisipaliteit, die Wes-Kaapse Regering en die Departement van Water en Sanitasie by die reaksie betrek is.
Dié vrae gaan oor meer as die herstel van elektrisiteit: wanneer ’n langdurige onderbreking water, riool, gesondheid, veiligheid en kommunikasie bedreig, moet ander noodsaaklike dienste ook beskerm word.
Donkerte bring veiligheidsrisiko’s
Volgens inligting wat Die Hoorn ontvang het, is kragkabels onder meer by die Bridgton-sportterrein gesteel, met skade van duisende rande. Die diefstal het nie die oorspronklike onderbreking veroorsaak nie, maar wys op die risiko wanneer groot dele van ’n dorp lank sonder beligting is.
Volgens Donovan Kleinhans van AfriForum Oudtshoorn is ekstra buurtwagpatrollies reeds Saterdagaand versoek en het verskeie sekuriteitsmaatskappye ekstra voertuie ontplooi. Die situasie was dié aand volgens hom redelik onder beheer, maar van Sondagaand af is meer voorvalle aangemeld. Dit het betreding van erwe, verdagte persone, ’n gesteelde fiets en kabels wat geteiken is, ingesluit.
Kleinhans sê drie gemaskerde jong mans het Sondagaand by ’n woning ingebreek en die inwoner aangerand. Hulle het na bewering met ’n selfoon, skootrekenaar en vuurwapen gevlug.
Teen Maandagaand was daar volgens hom verdere klagtes oor verdagte persone en betreding van eiendom. Hy sê die De Rust-pad naby Rosevalley is ook met klippe en later brandende bande versper en dat die voorval om 19:07 by die polisie en verkeersafdeling aangemeld is.
Harry Coetzee van Black List Sekuriteit sê hul rugsteunstelsels het aanvanklik op omsetters gewerk. Toe die batterye uitgeput raak, moes hulle kragopwekkers gebruik om alarm- en kamerastelsels aan die gang te hou en ’n wag aanstel om die kragopwekker te bewaak.
Volgens Coetzee was daar meer beweging as gewoonlik in woonbuurte. Die maatskappy het ekstra voertuie ontplooi om kliënte se eiendomme te monitor. Hy sê persone is in verskeie gevalle met vermoedelik gesteelde eiendom betrap en aan die polisie oorhandig.
Omdat gewone kommunikasie- en verslagdoeningskanale tydens die onderbreking nie altyd betroubaar gewerk het nie, kon die totale omvang van misdaad teen druktyd nie bepaal word nie.
Gemeenskap help mekaar
Te midde van die frustrasie het inwoners en ondernemings mekaar gehelp. Mense met sonkrag en kragopwekkers het ander gehelp om selfone te laai, terwyl ondernemings hul geriewe beskikbaar gestel het waar moontlik. Een plaaslike besigheid het tydens die onderbreking meer as 60 mense op een dag gehelp om hul selfone te laai.
Die eerste syfers toon reeds ’n groot finansiële impak, maar die volle rekening sal eers later duidelik word. Die krisis het ook vrae gelaat oor die instandhouding van Eskom se infrastruktuur, die beskerming van noodsaaklike dienste en die spoed en gehalte van kommunikasie wanneer ’n hele ge-meenskap geraak word. (ANGELIQUE ERASMUS)
Be the first to comment on "Vier dae in die donker"