’n Dreigement wat op sosiale media versprei is en waarin leerders van Bridgton Sekondêr in Oudtshoorn met geweld gedreig word, het groot kommer onder ouers en inwoners veroorsaak.
Volgens die boodskap word leerders gedreig dat hulle Donderdagmiddag, 20 Augustus, by die skool ingewag en aangeval sal word.
Die Oudtshoorn Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het intussen bevestig dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens van die boodskappe bewus is en dat die aangeleentheid ondersoek word.
“Voorsorg- en veiligheidsmaatreëls is reeds in plek, en die nodige stappe word geneem om die veiligheid van ons kinders te verseker,” lui die GPF se verklaring.
Die GPF het inwoners gevra om kalm te bly en nie onbevestigde inligting verder op sosiale media te versprei nie. Enigiemand met relevante inligting word versoek om dit direk by die polisie aan te meld.
Ouers bekommerd
Die dreigement het vinnig op sosiale media versprei, met verskeie inwoners wat hul kommer oor die veiligheid van leerders uitgespreek het.
Een inwoner het geskryf dat kinders “net skool toe wil gaan om te leer”, maar nou in vrees leef weens geweld. Ander inwoners het gevra dat die polisie ’n sigbare teenwoordigheid by die skool moet handhaaf wanneer leerders die skoolterrein verlaat.
Verskeie plasings het ook ’n beroep op ouers en die breër gemeenskap gedoen om saam te staan en kinders teen geweld en intimidasie te beskerm.
Die oorsprong van die dreigement en wie daarvoor verantwoordelik is, is in hierdie stadium nie bevestig nie.
Die GPF het benadruk dat die veiligheid en welstand van die kinders van die uiterste belang is terwyl die polisie die aangeleentheid ondersoek.

Be the first to comment on "Dreigement teen Bridgton-leerders wek kommer"