Ondersoek teen raadslede verby, maar vrae bly

RAADSLEDE van die Groter Oudts­hoorn, en so ook die inwoners, is steeds in die duister oor ’n ondersoek teen drie raadslede, Colan Syl­vester (OGI), Leon Campher (Advies­kantoor) en Suzanne Jansen (PA).

Tydens Dinsdag se spesiale raadsvergadering het die speaker, Johan Allers (VF Plus), bekend gemaak dat die ondersoek afgehandel is met geen negatiewe bevindings teen enige van die raadslede nie. Allers het by ’n raadsvergadering op 29 Augustus gesê hy het opdrag van die provinsiale regering ontvang om ’n ondersoek teen die drie raadslede in te stel, maar ondanks versoeke van raadslede by albei vergaderings het Allers gesê dat hy volgens wetgewing slegs ver­plig is om ’n aankondiging oor die ondersoek te doen, maar nie oor die aard daarvan hoef uit te brei nie.

Uit raadslede se reaksie hou die ondersoek verband met klagtes ten opsigte van die Sentraal Karoo Distriksmunisipaliteit.

Volgens Campher was die hele affêre ’n “heksejag”. “Jy het geweet dit is! Gee nou vir die raad en die media die redes hier­voor, want die stories loop hoog in die gemeenskap hieroor,” het hy tydens die vergadering gesê. Allers het egter die saak as afgehandel bestempel.

Pos van munisipale bestuurder
Volgens burgemeester Chris Macpherson is die paneel wat ’n nu­we munisipale bestuurder moet aanstel, nie ge­luk­kig met die huidige kortlys van kandidate vir die pos nie. Die paneel, bestaande uit raads­lede van beide regerende en opposisie-“koalisies”, wil die pos weer adverteer om die poel kandidate te pro­beer versterk.

Raadslede soos Mziwoxolo Tyatya (hoof­sweep ANC), Sylvester, Sonia Bentley (Good) en Campher het egter ’n pro­bleem hiermee gehad en wou weet hoe­kom nog kandidate nodig is en verdere fondse bestee moet word. Ná ’n kort woor­dewisseling en koukus het die raad tot ’n skikking gekom en sal die pos weer geadverteer word en die proses so spoedig moontlik afgehandel word. (Deur Stefan Skapie Goosen)