Alpha FC Oudtshoorn het Oudtshoorn met trots verteenwoordig tydens die vierde jaarlikse Groepies Memorial Cup, wat deur Junction Rovers FC in samewerking met Cape Town LFA en SAFA aangebied is. Altesaam 47 spanne van regoor die Wes-Kaap het aan die toernooi deelgeneem.
Die Oudtshoorn-span, met spelers tussen die ouderdomme van 9 en 15 jaar, het vir die tweede keer aan die toernooi deelgeneem en was die enigste span van Oudtshoorn wat hierdie jaar die uitdaging aangepak het.
Die span het Vrydag 9 Oktober hul veldtog begin met ’n doellose gelykopuitslag van 0-0 teen Silver Spurs FC. Alpha FC het daarna sterk teruggekeer en Purple Hearts FC met 5-0 verslaan.
Saterdagoggend het die Oudts-hoorn-span hul goeie vorm voortgesit met ’n oorwinning van 2-1 oor Junction Rovers FC. Hulle het vervolgens met 1-1 teen R2TC Academy gelykop gespeel, voordat hulle met 1-0 teen Strandfontein FC verloor het.
Ondanks dié nederlaag het Alpha FC genoeg gedoen om vir die Silver Plate-afdeling te kwalifiseer. Die span se toernooi het egter Sondagoggend tydens die uitklopfase tot ’n einde gekom toe Hanover Park FC hulle met 1-0 verslaan het.
Hoewel die span nie die uitklop-rondes kon oorleef nie, was die deelname waardevolle ondervinding vir die jong spelers, wat die geleentheid gekry het om hul vaardighede teen sterk teenstanders van regoor die provinsie te toets.
Die span se deelname is moontlik gemaak deur die ondersteuning van Blue Ribbon en Build it Oudtshoorn, wat sokkerdrag, sokkerstewels, sakke en waterbottels geborg het.
Marlo Jones het ook ondersteuning gebied deur vervoer vir die span te reël.
Die afrigtingspan het bestaan uit hoofafrigter Kutlwano Kelehetswe, spanbestuurder Desiree Mawela en hulpafrigters Marlin Wilschut en Thuto Senwedi.
Alpha FC Oudtshoorn se deelname aan die toernooi beklemtoon die belangrikheid van jeugsokker en die rol wat plaaslike borge en afrigters speel om jong spelers se drome te onder-steun en hul talent verder te ontwikkel. (GRANWILLE GOLIATH)
Alpha FC Oudtshoorn wys veggees by Groepies Memorial Cup
Foto verskaf.
Be the first to comment on "Alpha FC Oudtshoorn wys veggees by Groepies Memorial Cup"