Ses atlete en twee afrigters van die Suidwestelike Distrikte (SWD) het ’n belangrike rol gespeel in Team South Africa se suksesvolste MWF-wêreldkampioenskap in majorettesport tot nog toe. Die kampioenskap is in Katowice, Pole, aangebied en het 82 spanne uit 11 lande en ongeveer 3 000 deelnemers byeengebring.
Chloé Barnard, Willisha Hendricks, Willdene Piedt, Mbalantle Tyatya, Dané Mei en Karishney Pikaan het die eer gehad om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig nadat hulle vir die span gekies is en Protea-kleure verwerf het.
Die ses atlete se deelname is ’n besonderse prestasie vir die SWD-streek en beklemtoon die talent en toewyding wat plaaslik in majorettesport ontwikkel word.
Twee afrigters van die streek, Ronald en Megan Presher, het ook ’n belangrike bydrae tot die Suid-Afrikaanse span se veldtog gelewer. Ronald was die afrigter van die junior span, terwyl Megan verantwoordelik was vir die senior span.
Onder Ronald se leiding het die junior span ’n vierde plek in Junior Mace en ’n sesde plek in Junior Baton Defile behaal. Megan se senior span het uitstekend gevaar met ’n tweede plek in Senior Mace Stage, asook ‘n vyfde plek in Senior Baton Classic en ‘n sesde plek in Senior Baton Flag.
Suid-Afrika het ook op individuele vlak beïndruk, met manlike atlete wat eerste en tweede plekke in die individuele Pom-, Baton- en Mace Solo-kategorieë behaal het.
Die reis na Pole was self ’n avontuur. Die span het vanaf Suid-Afrika deur Ethiopië, Wene en Warskou gereis voordat hulle Katowice bereik het. Vir die atlete het die deelname jare se harde werk, dissipline, opoffering en ure se oefening verteenwoordig.
Vir die SWD is die prestasie veel meer as net uitslae op ’n telbord. Die ses atlete het hul families, skole en gemeenskappe se trots saam met hulle na die internasionale verhoog geneem.
Die sukses van Ronald en Megan Presher as afrigters, tesame met die atlete se indrukwekkende vertonings, dien as inspirasie vir jong majorettes wat ook daarvan droom om eendag Protea-kleure te dra.
Met hul terugkeer kan die SWD met trots sê dat agt van sy eie gehelp het om geskiedenis vir Suid-Afrika in Pole te maak. (GRANWILLE GOLIATH)
Ses SWD-trompoppies en twee afrigters vaar goed op wêreldverhoog in Pole
Foto: Granwille Goliath
Be the first to comment on "Ses SWD-trompoppies en twee afrigters vaar goed op wêreldverhoog in Pole"