‘Om soldaat te wees is ’n roeping’

Van die 889 nuwe soldate wat Vrydag op Oudtshoorn uitpasseer het. Foto: Garnett Wicomb

“SOLDAATWEES is nie ’n gewone werk nie maar ’n roeping. Dankie dat julle gekies het om jul land te dien.”

So het die hoof van die nasionale weermag, genl Solly Zacharia Shoke, Vry­dagoggend aan die 889 nuwe soldate, 641 mans en 248 vroue, met hul uitpassering by die SANW Infanterieskool gesê.

Die jaarlikse uitpassering is as gevolg van die huidige Covid-19 Inperkingsregulasies vir die eerste keer sonder die tradisionele teenwoordigheid van honderde ouers en familie gehou.

Die weermagorkes wat gewoonlik ook luister verleen aan die geleentheid sowel as ander vertonings moes ook agterweë gelaat word en was die dra van maskers en handhawing van 1,5 m afstand ook streng nagekom.

Shoke het die groep geluk gewens met die suksesvolle voltooiing van hul basiese opleiding van 18 weke, en aangemoedig om elke geleentheid wat die weermag hulle bied met albei hande aan te gryp.

Met verwysing na Vrouedag het Shoke ook ’n beroep op die nuwe soldate gedoen nee te sê vir die euwel van geweld teen vroue en kinders.

Oor die Covid-19 pandemie het Shoke gesê: “Dit neem soveel van ons om die verspreiding van die virus te bekamp maar dit leer ons ook iets.”

Shoke het klem gelê op die belang­rikheid van dissipline en die nuwe soldate
gevra om uit te gaan en ’n voorbeeld en verskil in hul gemeenskappe te maak waarop die weermag trots kan wees.

Shoke het die nuwe soldate geloof vir hul indrukwekkende dissipline wat nie ongesiens verbygaan nie en bygevoeg dat dit nie maklik is om so lank van die huis te wees nie.

“Soldaatwees is nie ’n gelykpad nie en die toekoms behoort aan dié wie aan hul drome glo. Julle is ’n spesiale groep jongmense.”

Volgens Shoke is dissipline en nogmaals dissipline van die belangrikste vereistes vir ‘n ware soldaat en ononderhandelbaar.

Hy het die nuwe soldate sterkte toegewens met hul loopbane in die SANW. (Deur Garnett Wicomb)