Saak vir uitspraak uitgestel: Moord op 19-jarige Angelo Manewille

DIE saak teen die twee verdagtes wat van moord op ’n negentienjarige matrikulant van Oudtshoorn aangekla word, is verlede week in die streek­hof op Oudtshoorn ná die getuienis van ’n patoloog vir uitspraak uitge­stel.

Dr Mariette Hurst wat die nadood-se ondersoek op die 19-jarige Angelo Manewille uitgevoer het, het getuig dat sy drie uitwendige beserings aan die liggaam van die oorledene gevind het waarvan die steekwond in sy nek die noodlottige een was.

Hy is ook in sy rug gesteek terwyl daar ’n oppervlakkige wond aan een van sy arms was.

Die 40-jarige Richard Manel en die 39-jarige Shaun Nagel word daarvan aangekla dat hulle op Saterdag 28 Julie 2018 vir Angelo Manewille in Springbokweg, Bridgton, vermoor het.

Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, wou van die dokter weet of sy enige ander beserings kon waarneem na aanleiding van getuienis voor die hof dat die oorledene glo vroeër die betrokke dag met die vuis geslaan, geskop, op sy kop getrap en met ’n gebreekte bottel gekap is.

Sy het hierop geantwoord dat die enigste ernstige beserings deur ’n mes toegedien is.

Op ’n vraag van die hof waar die bloed aan die oorledene se mond vandaan sou kom, het sy geantwoord dat dit miskien van die steekwond in die nek gekom het.

Manel en Nagel is op borgtog van R1000 elk vrygelaat met van hul borgvoorwaardes dat hulle drie dae per week by die Bridgton Polisie-kantoor aanmeld, nie kontak maak met staatsgetuies nie, nie by verdere misdaad betrokke raak nie en nie by ander adresse tuisgaan totdat die saak afgehandel is nie.

Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla.

Die saak is vir uitspraak tot 26 Augustus uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)