Nuwe leiers wil stabiliteit bring

DIT is vir die nuutverkose leierskap van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit belangrik om absolute stabiliteit in die Groter Oudtshoorn te bewerkstellig en so dienslewering aan die gemeenskap te verseker, sê die burgemeester, Chris Macpherson.

In ’n eerste stap na stabiliteit is waarnemende aanstellings gemaak in die vakante senior bestuurs­poste.

By ’n spesiale raadsvergadering verlede Vrydag is Gerald de Jager, direkteur finansies, as waarnemende munisipale bestuurder aangestel, terwyl die twee vakante direkteursposte ook waarnemend gevul is.

Louis Fourie, ’n afgetrede kenner van plaaslike owerhede, is aangestel as waarnemende direkteur finansies, terwyl Chris Swart, senior bestuurder water en riool, aangestel is as waarnemende direkteur tegniese dienste.
Magdom uitdagings

“Ons is bewus van die magdom uitdagings wat die munisipaliteit in hierdie stadium in die gesig staar, en wat moontlik groot kommer by inwoners van die Groot Oudtshoorn veroorsaak. Hoewel ons nie kan waarborg dat al die probleme onmiddellik opgelos sal word nie, kan ons die gemeenskap verseker dat alle uitdagings aandag geniet,” sê Macpherson in ’n persverklaring wat die week deur die munisipaliteit uitgereik is
Die munisipale bestuurder skenk tans aandag aan al die departemente se terug-werk-toe-planne om te midde van die Covid-19-pandemie doeltref­fende dienslewering te verseker.

Die raad sal ook sake soos die afhandeling van die Web­ber Wentzel-verslag prioretiseer, terwyl al die wyke en die funksionering daarvan vandeesweek geëvalueer word.

Die raad het ook onderneem om tydens ’n werksessie wat Woensdag plaasgevind het, oor ’n aantal sleutelkwessies beraadslaag met die spesifieke fokus op finansies.

Skerp Covid-styging in Groter Oudtshoorn
Macpherson sê die raad is baie bekommerd oor die vinnig stygende getal bevestigde Covid-19-gevalle in die Groter Oudtshoorn.

Oudtshoorn is een van die twee dorpe in die Tuin­roete (die ander is Mosselbaai) wat ’n drastiese toename in infeksies ervaar.

“Op Maandag 10 Augustus 2020 het die bevestigde aantal Covid-19-gevalle in die Groter Oudts­hoorn 737 beloop met 405 mense wat herstel het. Ons doen ’n beroep op die inwoners en besighede in die Groter Oudtshoorn om aan die Covid-19-regulasies te voldoen.

“Ons sal ’n paar gebiede in die dorp besoek wat deur Covid-19 geraak word en waaroor daar kommer bestaan, asook besighede.”

Covid-19-verligting
As gevolg van die huidige ekonomiese druk het die raad by sy raadsvergadering Vrydag Covid-19-verligting op mu­­nisipale rekeninge vir inwoners en besighede uitgebrei.

• Geen rente word op agterstallige verbruikers-rekeninge (inwoners en besighede) vir ’n periode van ses maande vanaf Julie 2020 tot Desember 2020 gehef nie.

• Die raad bied ’n eenmalige skikking van 50% aan verbruikers wie se munisipale rekeninge einde Junie 2020 agterstallig was.

• Geen verbruikers sal tot 31 Januarie 2021 geblokkeer word om elektrisiteit gedurende die pandemie te koop nie, met die uitsondering van munisipale amptenare en raadslede wat hul volle vergoeding gedurende die pandemietydperk ontvang het.

• Verbruikers met wie se elektrisiteitsme­ter­kassies/-toevoer gepeuter is, word ook uitgesluit.

• Die munisipaliteit gaan voorts ’n verpligte persentasieheffing van 40% hef by die aankoop van voorafbetaalde elektrisiteit deur verbruikers wat agterstallig is met hul munisipale rekeninge. Dit beteken dat die munisipaliteit 40% van hul voorafbetaalde elektrisiteitsaankope na die oorblywende agterstallige bedrag sal oordra.

• Alle residensiële verbruikers met ’n konvensionele elektrisiteitsmeterkas sal op die munisipaliteit se koste omgeskakel word na ’n voorafbetaalde elektrisiteitsmeterkas.

Daar sal begin word met dié verbruikers wat agterstallig bly met hul munisipale diens­te­re­ke­ninge ten spyte van ’n aanbod van verligting op rekeninge. (Deur Liesel le Roux)