‘Enige skenking vir sopkombuise in Welgeluk is baie welkom’

Heel bo van links gee Nella Roman, Beatrice Piedt en Mietsie Goliath sop en brood vir van die kinders van Welgeluk. Onder: Voordat elke kind kon sop kry, is hul hande eers gereinig. Heelonder: Met maskers en handhawing van sosiale afstand wag van die kinders vir hul sop. Foto’s: Liesel le Roux

’N SOPKOMBUIS wat weekliks vir kinders van die landelike gebied Welgeluk kan kos voorsien, is haar droom, sê Mietsie Goliath wat in dié gebied woon.

Sy het Dinsdag saam met nog twee vroue van die gebied, Beatrice Piedt en Nella Roman, begin en sop en brood gegee aan kinders by die “wit huisies” langs die Mosselbaaipad net voor Safari.

Sy hoop om die volgende weke ook sop en brood te kan gee aan kinders wat langs die Welgeluk-pad woon asook aan ander in die Zeekoegat-omgewing.
Mietsie sê sy hoop dat mense haar sal onder-steun met sopbestanddele en brood omdat sy tans alles uit haar eie sak moes aankoop. “Enige sken­kings sal baie welkom wees en ons help om voort te gaan om vir kinders ’n voedsame ete te gee.”

Enigiemand wat kan help, kan haar bel of whatsapp by 063 131 6217 of bestanddele afgee by Die Hoorn se kantoor in die Queen’s Mall. (Deur Liesel le Roux)