“HOEWEL die 12de Klein Karoo Klassique, Oudtshoorn se fees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn, weens die Covid-19-pandemie nie vanjaar soos beplan kon plaasvind nie, is ons baie opgewonde om die program van ons eerste digitale Klein Karoo Klassique Konsertreeks aan te kondig,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees. Klein Karoo Klassique was geskeduleer om die afgelope naweek in Oudtshoorn plaas te vind.
“Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) is een van Klassique se oudste vennote en maak ’n integrale deel uit van vanjaar se aanlynfees, wat van Augustus tot September aangebied word. Om die KFO betrokke te hê is soos om na ons wortels terug te keer!”
Die KFO se program sluit drie klassieke musiekuitvoerings in: Beethoven se Triple Concerto verwerk vir die klavier, viool en tjello; twee Mozart-oktette vir blaasinstrumente en Gounod se Petite Symphonie vir blasers.
Die opname van die verwerking van Beethoven se Triple Concerto is ’n wêreldpremière wat opgeneem is in drie stede – Salzburg, Colorado en Kaapstad – op drie verskillende kontinente.
Die dromer agter die Mozart-oktette vir blasers is Simon Ball, KFO se hoof-fagotspeler. “Met die Mozart-oktette se twee hobo’s, twee klarinette, twee fagotte en twee horings, was dit die natuurlike keuse om ons hooffluitspeler, Gabriele von Dürckheim, te nader vir die Gounod-uitvoering, waarvan gedeeltes beskou word as ’n aria vir fluit,” sluit hy af.
Die immergewilde Charl du Plessis Trio sal ook bydra tot vanjaar se aanlynprogram, met die Suid-Afrikaanse première van hulle uitvoering wat opgeneem is by die Festival Musiekdorf Ernen in Switzerland in 2017. Die uitvoering sluit werke deur Bach, Du Plessis en ander in.
Die uitvoering deur die trio – bestaande uit Du Plessis (klavier), Werner Spies (bas) en Hugo Radyn (tromme) – is opgeneem in die skouspelagtige St Georg-kerk in Ernen.
• Kaartjies vir die eerste digitale Klein Karoo Klassique Konsertreeks sal beskikbaar wees by Quicket, met die eerste konsert wat op Donderdag 27 Augustus 2020 uitgesaai word.
Elke konsert is beskikbaar vanaf 18:00 op die Donderdag tot middernag die volgende Maandag. Uitvoerings kan gedurende hierdie tyd meer as een keer gekyk word en kaartjieverkope is oop gedurende dié tydperk.
Die volledige program:
• 27 Augustus: Beethoven Triple Concerto
• 4 September: Mozart Wind Octets
• 11 September: Gounod se Petite Symphonie
• 18 September: Charl du Plessis Trio.
’n Klassique-pakket vir al vier uitvoerings is beskikbaar teen slegs R300, of kaartjies kan vir individuele uitvoerings gekoop word teen R100 elk vir Beethoven, Mozart en die Charl du Plessis Trio, en R75 vir Gounod.
Kaartjies is vanaf 14 Augustus by www.quicket.co.za beskikbaar. Vir meer inligting besoek www.klassique.co.za.