’N LEERDER van die Hoërskool Oudtshoorn sal in Desember vanjaar Bloemfontein toe vertrek waar hy sy droom om professioneel rugby te speel sal kan navolg.
Nimo van der Merwe vertel dat hy tydens ’n universiteit-uitstalling by sy skool die Cheetahs Institute of Excellence raakgesien het, en besluit het om aansoek te doen.
Nadat hy sy rugby-CV vir die instituut gestuur het, is hy gekeur om by hulle aan te sluit.
“Dit is vir my ’n groot voorreg om gekies te kon word… Nie almal is gelukkig om so ’n kans te kry nie. Ek gaan beslis die beste van die geleentheid maak,” vertel die kranige jong speler.
Nimo sê hy kan enige posisie in die agterlyn speel, maar hy verkies losskakel of heelagter. En hy weet hy gaan Oudtshoorn beslis mis. (Deur Stefan Skapie Goosen)
