DIE dertien kriminele klagtes wat teen Allen Paulse, voormalige munisipale bestuurder van Oudtshoorn, ingedien is en die daarmee gepaard-gaande lasterlike bewerings oor hom het ongekende wroeging vir hom en sy familie veroorsaak. Dit het ook sy goeie naam, reputasie en professio-nele integriteit baie skade aangedoen.
Dit het Paulse vandeesweek in ’n persverklaring gesê nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit het om hom nie te vervolg in verband met 13 klagtes wat teen hom by die SA Polisiediens ingedien is nie. Die dertiende klag het die omstrede Webber Wentzel-verslag in sy geheel bevat.
Die besluit om nie te vervolg nie, is deur adv Billy Downer* (SC), adjunkdirekteur van openbare vervolgings van die NVG, geneem omdat daar volgens hom geen kans vir suksesvolle vervolging bestaan nie.
Hy het dié besluit geneem nadat die NVG die 13 aanklagte, wat die Webber Wentzel-verslag insluit, bestudeer het. Na aanleiding van Downer se besluit het die streekhoof vir Paulse in kennis gestel dat hy nie vervolg sal word nie.
Onder andere raadslede het die afgelope twee jaar onder aanvoering van Oudtshoorn se vorige burgemeester, Colan Sylvester, 13 klagtes teen Paulse in sy hoedanigheid as munisipale bestuurder by die Polisie ingedien. Die klagtes is intensief deur die Valke ondersoek.
Nadat die klagtes by die Polisie ingedien is, is daar ook dissiplinệre stappe teen Paulse ondersoek op grond waarvan hy sowat elf maande op betaalde verlof geplaas is. Dit het daartoe gelei dat Paulse op 26 Oktober verlede jaar as Oudtshoorn se munisipale bestuurder bedank het. Die munisipale raad het sy bedanking aanvaar.
Intussen het Paulse met ingang van 1 Januarie 2021 die pos van waarnemende direkteur: gemeenskapsdienste by die George munisipaliteit aanvaar.
Volgens Paulse het hy deurgaans tydens die kriminêle klagtes teen hom sy volle samewerking aan die Valke gegee in hul ondersoek. Hy het omvattend gereageer op elke bewering teen hom, gerugsteun deur bundels feitelike dokumentasie. Op grond van sy repliek en die dokumentasie het die NVG besluit dat daar geen kans op suksesvolle kriminele vervolging bestaan nie.
Paulse sê met sy aanvaarding van die pos as rekenpligtige beampte van die Oudtshoorn munisipaliteit, was die munisipaliteit op die randjie van totale finansiёle ineenstorting. Hy verklaar:
• Die munisipaliteit het geen reserwes gehad nie en daar was ’n kontantvloeitekort van sowat R110miljoen;
• Skuldinvordering was minder as 80%;
• Krediteure het die munisipaliteit meer as R90miljoen geskuld;
• Die munisipaliteit was R53miljoen aan Eskom verskuldig;
• Ouditmenings van die ouditeur-generaal in die voorafgaande jare was negatief; en
• Volumes verslae is uitgereik rondom bewe-ringe van grootskeepse korrupsie, bedrog en wan-administrasie deur die vorige administrasie, met enkele suksesvolle kriminele en dissiplinệre vervolgings en bedankings van amptenare.
Paulse sê onder sy leiding met die bystand van ’n span bekwame senior amptenare is die situasie suksesvol aangespreek:
• Die skuld aan Eskom is volledig afgelos:
• Kontantreserwes van sowat R94miljoen is teen 2018 opgebou;
• Groot getalle tydelike poste wat nie waarde tot die administrasie toegevoeg het nie, is afgeskaf; en
• Die ouditmenings van die ouditeur-generaal het verbeter.
Paulse sê hy was deurgans verbind tot goeie regering. In die lig van sy en sy seniorspan se prestasies het die kriminele aanklagte as ’n skok en teleurstelling vir hom gekom.
Hy sê tot met sy nagmerrie-ervaring op Oudts-hoorn het hy ’n onberispelike rekord gehad. In sy jare by Breedevallei munisipaliteit as waarnemende munisipale bestuurder en later as die munisipale bestuurder by Bitou het hy en sy span direkteure drie skoon ouditmenings ontvang.
Volgens Paulse was daar soos dit hoort hier op Oudtshoorn aanvanklik ’n gesonde verhouding tussen hom en sy direkte toesighouer, die voormalige burgemeester Colan Sylvester. “Die verhouding was deurgaans professioneel en respekvol.
“Daar het egter ’n skielike ommeswaai gekom toe ek die vrou van ’n prominente raadslid, wat ook in diens van Oudtshoorn munisipaliteit was, dissiplinệr ondersoek het vir ’n oortreding van die Gedragskode vir Amptenare. Besonderhede oor die oortreding is regtens gepriviligeerd en kan daarom nie openbaar gemaak word nie.”
Volgens Paulse het sy verhouding met Sylvester verder versuur toe hy bewyse gelewer het dat Elrico van Rooyen, voormalige bestuurder in die kantoor van die burgemeester, ’n misdaadge-skiedenis vir bedrog het, en Deon Britz, ook ’n amptenaar in die burgemeesterskantoor, deur sy vorige werknemer, die Stad Kaapstad, ontslaan is vir growwe oneerlikheid. Albei amptenare moes hierna hul poste ontruim ingevolge die tersaaklike munisipale wetgewing en regulasies.
Paulse meen daar moet dringende vrae gestel word oor die verkryging, aanstelling en uiteindelike uitgawe van R2,3miljoen vir die Webber Wentzel-verslag. In dié verband sal die opmerkings en bevindings van die ouditeur-generaal oor die Webber Wentzel-verslag die nodige perspektief en duidelikheid bring.
Paulse sê Webber Wentzel se verslag en gevolg-trekkings is geskoei bloot op onderhoude met Sylvester en drie ander gewese raadslede.
Hyself as munisipale bestuurder, Felix Lӧtter, voormalige direkteur finansies, en ander ampterna-re wat in die verslag geïmpliseer word, is nooit die geleentheid gegun om te reageer op bewerings in die verslag teen hulle en die gevolgtrekkings wat gemaak is nie. Ondanks die feit dat Webber Wentzel in sy verslag meld dat dit nie ’n forensiese verslag is nie, het verskeie individue valslik verkondig dat dit ’n forensiese verslag was.
Paulse sê hy sou voorts wou sien dat die belas-tingbetalers van Oudtshoorn vrae stel oor die elf maande wat hy vergoeding ontvang het sonder dat hulle enige waarde gekry het van sy professionele dienste.
Nog ’n vraag is, of die “vertroulike” Webber Wentzel-verslag opsetlik en kwaadwillig uitgelek is. “Dit het gelei tot ’n ongekende moddergooiery en laster teen onder andere myself.” Die Hoorn kan bevestig dat Paulse veral op sosiale media deur elke jan rap en sy maat verguis en beskuldig is van korrupsie en ander vergrype.
Paulse sê hy gaan ’n aansoek by die Valke bring ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting om toegang te kry tot die ver-klarings wat gelei het tot die aanklagtes teen hom.
Hy sal dan siviele en kriminêle vervolging oorweeg vir naamskending, beswaddering en meineed op grond van die blatante wanvoorstelling deur verskeie individue.
Paulse het sy dank en waardering uitgespreek aan almal wat deurgaans in sy integriteit en onskuld geglo het.
- Ter agtergrond: adv Downer was in 2005 die senior NVG-aanklaer in die saak waarin Schabir Shaik aan bedrog en korrupsie skuldig bevind is. Downer lei tans ook as senior aanklaer die vervolging van voormalige pres Jacob Zuma, wat te-regstaan op verskeie aanklagte van onder meer bedrog en korrupsie. (Deur Schalk le Roux)

Bravo!! I salute you Allan! I always believed in your innocence ! Aluta, ! We shall overcome👍👊🏾✊