HY het verkeerd gedoen en sal sy straf vat.
So het Abraine Coerecius (41) van Oudtshoorn verlede Vrydag (5 Februarie) in die Oudtshoorn Streekhof tydens kruisondervraging getuig, nadat hy besluit het om skuldig te pleit op al die klagtes teen hom.
Abraine, wat homself as ’n prokureur voorgedoen het, het saam met sy broer, Anthony Coerecius (42) tereg gestaan op agt klagtes van bedrog.
Abraine het aanvanklik net op twee klagtes – dat hy hom as prokureur voorgedoen het en van geldwassery – skuldig gepleit.
Op die ander ses klagtes van bedrog het hy onskuldig gepleit en slegs op die alternatiewe klagte van diefstal skuldig gepleit.
Hy is aangekla dat hy by ses geleenthede erwe of huise aan drie persone verkoop het wat hy nie besit het nie.
Hy het vier erwe in Knysna en Plettenbergbaai aan Benjamin Vrey en sy seun teen bedrae van meer as R440 000 verkoop, ’n huis in Knysna aan Louis Booysen vir ’n bedrag van R160 000, en ’n erf met die belofte om ’n huis daarop te bou aan Lawak Abrahams, teen ’n bedrag van R160 772.
Abraine het Vrydag getuig dat sy broer nie bewus was van die transaksies nie.
Hy het ook getuig dat hy die geld vir sy eie besigheidsdoeleindes gebruik het en die opgradering van sy moeder se huis, en dat hy ’n e-pos-adres vir sy broer geskep het waarvan sy broer nie geweet het nie.
So het sy broer ook nie geweet hoe hy die geld bekom het nie en is aan hom gesê dat dit kommissie was.
Vrey, Booysen en Abrahams het Vrydag ter strafverswaring die hof versoek om Abraine die maksimum vonnis vir bedrog op te lê omdat nie een van hulle van hul geld teruggekry het nie.
Volgens Vrey het die beskuldigde hom lank gelede belowe dat hy die geld sou terugbetaal, maar dit nie gedoen nie.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om vonnisse van 15 jaar gevangenisstraf vir elk van die agt klagtes op te lê omdat die beskuldigde dolus eventualis opgetree het.
Abraine se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die hof versoek om in ag te neem dat hy skuldig gepleit het.
Streeklanddros Ntsoki Moni het die saak vir vonnisverrigtinge tot 25 Februarie uitgestel en gelas dat Abraine, wat tot dusver uit op borgtog was, aangehou word. Sy broer is vrygespreek en ontslaan. (Deur Garnett Wicomb)