Nuwe dokter sluit by praktyk aan

Dr Nicolai Pierre du Toit het vandees-week by Drs Smith, Welgemoed en Kemp aangesluit.

DIE spreekkamers van Drs Smith, Welgemoed en Kemp in Baron van Reedestraat op Oudtshoorn sal eersdaags ’n bietjie van ’n naamverandering ondergaan en ’n vierde dokter insluit met die byvoeging van dr Nicolai Pierre du Toit (32).

Die praktyk sal voorts as Drs Smith, Welgemoed, Kemp en Du Toit bekendstaan.

Du Toit is gebore en getoë in Hartebeespoort, in die Noord-Wes, en het reeds as skoolkind ’n aanvoeling vir biologie gehad.

Hy is na skool na die Universiteit van Pretoria toe om daar as algemene praktisyn graad te kry, maar vertel dat hy daarna verder wou studeer, en na nog vier jaar het hy as familie geneesheer gekwalifiseer.

Volgens Du Toit is die ekstra vier jaar, dus ’n totaal van 12 jaar se studies, wat hy aan sy familie geneeskunde-kwalifikasie spandeer het veral vir hom belangrik omdat mens hierdeur bietjie meer intensief na verskeie aspekte van algemene medisyne fokus.

Hy skerts dat die ouer generasie van algemene praktisyns wat mens op kleiner dorpe soos Oudtshoorn vind se jarelange ervaring hul reeds familie geneeshere maak, omdat hulle al so lank alles op hul eie moes doen.

Hy het vir die afgelope 8 jaar in staatshospitale in die Gauteng-omgewing as algemene praktisyn en familie geneesheer gewerk waar hy baie ondervinding opgedoen het, en ook verskeie ander kursusse, onder meer ’n diploma in narkose en in geestesgesondheid, voltooi het om sy vaardighede as familie geneesheer aan te vul.

Du Toit het die afgelope naweek met sy vrou Amber, ’n arbeidsterapeut, en sy twee kinders, Nina (11) en Joshua (15 maande) Oudtshoorn toe verhuis. Hier sê hy wil hy graag deel raak van die gemeenskap. “Dit is tog hoekom my belangstelling in familie geneeskunde oor die jare gegroei het.

Ek wil graag die gemeenskap dien en deel raak van my pasiënte se lewens.”

Sy keuse om sy gesin hierheen te bring was maklik, sê hy. “Ons wou nog altyd Suid-Kaap toe trek, en toe hulle my bel vir die werk het ek dit aangegryp. Dis lekker om tussen jou eie tipe mense te wees.

“Gauteng is so chaoties, en mense leef verby mekaar, anders as hier. Ek sien uit daarna om almal te ontmoet!”