’n BEKENDE Boer van Volmoed buite Oudtshoorn, Laubscher Coetzee, is vanjaar op 16 November 2022, vir die tweede keer herverkies as visevoorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Natuurlike Hulpbronne.
“Natuurlike hulpbronne lê my baie naby aan die hart omdat dit ’n direkte inpak op landbou en boerdery aktiwiteite het,” sê Coetzee.
Hy wil graag betrokke bly en steeds ‘n bydrae lewer.
Coetzee vertel dat water-kwessies is ook vir hom baie belangrik, omdat dit nie net in Suid-Afrika ‘n groot probleem is nie, maar ook in die res van die wêreld. “Ons sal moet beplan om water ten beste te bestuur tot voordeel van boere, maar ook vir almal wat daarvan afhanklik is.” het hy gesê.
Coetzee is ook voorsitter van Agri-Weskaap se Natuurlike Hulpbronne Komitee.
Een van die kwessies waarop hy hom gaan toespits is, na bewering, die 800 tot 1 000 onwettige damme, strukture en keermure, om ’n paar voorbeelde te noem, wat in die Kammanassiedam se opvanggebied gebou is. Die gebied strek van die dam tot by die Langkloof.
“Ek het reeds die saak geopper tydens ons kongres in Johannesburg, en dit was vir my verstommend hoeveel ander areas in ons land met dieselfde probleem sukkel,” vertel hy.
Nog ’n fokuspunt vir Coetzee is dat wettige watergebruikers swaarkry omdat daar geen water in die damme soos die Kammanasiedam inloop nie, maar steeds moet boere elke jaar waterregistrasies betaal.
“Boere kan nie ’n oes afhaal van hul lande nie, omdat daar nie water is nie, so hul kan ook nie die registrasiesgeld betaal nie,” sê hy.
Wanneer daar wel water vrygelaat word, kan boere nie die water gebruik nie, omdat hul rekeninge agterstallig is, terwyl boere aan die bokant van die dam floreer.
’n Klein Karoo Water Taakspan is deur die Minister van Landbou, Ivan Meyer gestig, waarby Coetzee ook betrokke is, om spesifiek die gebied se water benodigdhede en onregverdighede aan te spreek. (Deur Angelique Erasmus)
Coetzee gaan watersake takel
Laubscher Coetzee.
Foto: Angelique Erasmus