DIE verdrinking van die vierjarige Christopher Solomons, Saterdag 19 November, het nie net groot reaksie op Facebook ontlok oor die leiwaterkanale in die groter Oudtshoorn, maar ook oor oplossings hoe om die kanaal te beveilig.
Die Hoorn het met Charl van der Merwe, hoofwaterbeheerbeampte en Willem Fourie, bestuurder van die Stompdrift Kammanasie Watervereniging (SKWV) gaan praat oor die uitdagings rondom die kanaal.
Van die SKWV se kant af doen hul als in hul vermoë om mense te waarsku voordat water vrygelaat word.
“Vanjaar was kennisgewings oral in Dysselsdorp opgeplak en mense gewaarsku, die polisie het selfs in strate gery en afgekondig dat daar water vrygelaat word,” vertel van der Merwe.
Daar was ook kennisgewings aan die koerante gestuur en Die Hoorn het twee Facebook plasings op hul blad gehad.
SKWV het juis vanjaar op Dysselsdorp gefokus omdat die kanaal daar baie gevaarlik is, en die nege-jarige Rudicia (Janalene) Gelant verlede jaar ingeval en verdrink het.
Die waterkanaal, is in 1925 gebou, en is 135 km lank. Dit strek vanaf die Stompdrift-, en Kamanassiedam tot by die Calitzdorp Spa.
Met die bou van die kanaal in 1925, was daar geen teken van enige huise of uitbreidings naby die area nie, en is dit juis ver vanaf enige ne-dersettings gebou.
Intussen het Oudtshoorn en die omliggende areas aansienlik uitgebrei soos Bongolethu en die Kanaal omgewing en selfs Dysselsdorp wat baie naby aan die kanaal is.
“Wat die kanaal so gevaarlik maak, is die feit dat die vloei baie stadiger lyk in die breër gedeeltes, maar die vloei raak vinniger, hoe dunner die kanaal raak,” sê van der Merwe.
Daar is ook drukpype wanneer water onderdeur paaie gaan, en daar vloei die water baie sterk en is uiters gevaarlik. Die skerp hellings van die sykante van die kanaal, veroorsaak ook dat enige persoon wat daarin beland, moeilik uit die kanaal kan klim.
“Ons het oppassers aangestel wat die kanaal by Dysselsdorp 24 uur ’n dag oppas, om te verhoed dat kinders weer in die kanaal opeindig,” vertel Fourie. Die gedeelte wat opgepas word is sowat 740 m. Dit is egter onmoontlik om die hele kanaal so op te pas, omdat ons personeel maar dun gestrek word. Tans werk daar 2 waterfiskale, 3 kantoor- en 12 algemene werkers wat die hele kanaal in stand en skoon moet hou sê van der Merwe.
Om die kanaal toe te maak is nie ’n opsie nie, omdat dit miljoene rande sal kos.
Die kanaal behoort aan die Department van Water en Sanitasie, wat nasionale regering is, met SKWV wat slegs die kanaal gebruik om water aan boere te verskaf.
“Ons het al voorheen ’n heining opgesit om die kanaal te beveilig, maar hierdie heinings word bloot net afgesteel deur booswigte,” verduidelik van der Merwe en Fourie.
Hul het ook siwwe opgesit voor pype, maar dit word gereeld gesteel en verkoop as skroot.
Die wat in Dysselsdorp afgesteel is, is vervang met treinspore, wat nie verkoop mag word en te swaar is om te dra.
Groot hope vullis word ook in die kanaal gestort, en dit vereis baie hulpbronne om skoon te maak voordat water vrygelaat kan word. Soms loop die kanale oor wat oorstromings veroorsaak as gevolg van die verstoppings verduidelik hulle.
Die nuutste probleem wat nou begin kop uitsteek is persone wat die sement infastruktuur op brûe stukkend kap om staal uit te breek en verkoop.
Kinders is ook het die afgelope week opgemerk waar hul in die kanaal swem toe Oudtshoorn weer bloedig warm was.
’n Interessante feit, is dat CJ Langenhoven regsadviseur op die kanaal projek was, en is daar nog handgeskrewe notas in SKWV se besit van Langenhoven se bydraes. (Deur Angelique Erasmus)
Kollig op kanaal-kopsere
1. Gemors dam op by een van die pype, waar water onderdeur die pad gaan. Foto: Verskaf
2. ’n Groep kinders swem in die kanaal, die foto is verledeweek op Facebook geplaas deur ’n bekommerde inwoner. Foto: Facebook
3. Staal uit sement gebreek en word gesteel om te verkoop as skroot. Foto’s: Verskaf