HY sien daarna uit om die gemeenskap van die Groter Oudtshoorn te dien en oop, deursigtige en eerlike bestuur te verseker, sê Walter Hendricks wat na ’n omvangryke keuringsproses as die nuwe munisipale bestuurder by die munisipaliteit aangestel is. Sy aanstelling is verlede Woensdag (30 November) by ’n raadsvergadering bekend gemaak. Hy sal die pos vanaf Januarie 2023 beklee.
Hy het die raad bedank vir die geleentheid en gesê hy sal insette van die gemeenskap verwelkom om huidige en toekomstige uitdagings op Oudtshoorn aan te spreek.
Die nuus van Hendricks se aanstelling is op plaaslike koerante se Facebook-bladsye met vrae asook steun begroet.
Inwoners wou weet hoekom Hendricks, wat vroeër vanjaar as waarnemende munisipale bestuurder bedank het, nou as munisipale bestuurder aangestel is, terwyl ander sy aanstelling ondersteun het, en geskryf het dat Hendricks darem “antwoorde gegee en nie weggehardloop het so vinnig as wat sy bene hom kon dra” nie.
• Luidens ’n persverklaring van die munisipaliteit het die keuringsproses vir ’n munisipale bestuurder in Oktober afgeskop nadat aansoeke ontvang is. ’n Veelparty-keuringspaneel, bestaande uit die burgemeester en drie raadslede, het die keuringsproses bestuur tot met die saamstel van ’n kortlys. Daarna is intensiewe onderhoude met elke kandidaat op die kortlys gevoer.
Die onderhoude is opgevolg met ’n teoretiese sessie en eksamen. Behalwe vir die raadslede was die munispale bestuurder van Mosselbaai asook ’n werwingspesialis ook lede van die paneel.
Na die voltooiing van die onderhoude en eksamen is elke kandidaat se somtotaal aan die keurpaneel voorgelê, waarna hulle konsensus moes bereik oor die geskikste kandidaat. Na afloop van die proses was daar konsensus dat Hendricks die mees geskikte kandidaat was en is dit aan die raad voorgelê vir goedkeuring. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Hendricks is nuwe munisipale bestuurder
Walter Hendricks. Foto: Stefan Skapie Goosen