
INWONERS van Black Joint en Volmoed sê hulle is keelvol vir Bidvest, die verskaffer van chemiese toilette aan die informele nedersettings in Oudtshoorn, se manier van werk en onaanvaarbare diens en optrede.
In Black Joint kla inwoners dat Bidvest nie die diens lewer soos uiteengesit in die munisipale tender nie, en in Volmoed het inwoners ’n Bidvest-trok afgeneem wat volgens hulle sy vol riooltenke op grondpaaie leegmaak.
Black Joint
Die gemeenskap van dié informele nedersetting, waardeur ’n klein, tans droë, stroompie loop, het Die Hoorn genader nadat hulle geen sukses behaal het met klagtes by verskeie amptenare van die Oudtshoorn Munisipaliteit oor Bidvest se diens met chemiese toilette nie.
Inwoners, onder meer Jolin Loggenberg – ’n woordvoerder vir die gemeenskap, sê hulle word van een persoon of departement na die ander gestuur. Volgens hulle skenk Bidvest ook geen aandag aan hul kommer of probleme nie.
“Die probleem is dat Bidvest nie soos ooreengekom volgens die tender omsien na die chemiese toilette by ons nie. Ons wag soms twee tot drie weke voordat die toilette gediens of skoongemaak word, en dit beteken dat die toilette oorvloei en ’n ernstige gesondheidsrisiko inhou vir almal wat daar woon, van kinders tot oumense,” sê Loggenberg.
Volgens hom word inwoners dus geforseer om die “emmerstelsel” te gebruik, en het hulle geen ander opsie nie as om hul toilette in die droë stroompie agter hul huise leeg te maak nie. “Dit ontneem ons van ons menslikheid! Bidvest jaag net k** aan hier!”
Hy sê inwoners het baie vrae. Hulle wil weet hoekom die munisipaliteit en hul wyksraadslid nie intree nie? Hoekom tree Bidvest nie op volgens regulasies en die vereistes van die tender nie? Hoe gereeld is Bidvest veronderstel om toilette leeg te maak, en hoe word die proses gekontroleer? Wat is Bidvest se verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap en wie hou hulle verantwoordelik?
Volgens Loggenberg voel inwoners dat hulle gedwing word om tussen hul eie ontlasting te woon, en vra hulle dat die munisipaliteit moet ingryp.
Die waarnemende munisipale bestuurder van Oudtshoorn, Gerald de Jager, sê die diensooreenkoms tussen die munisipaliteit en Bidvest is vir die verskaffing van chemiese toilette en diens van chemiese en puttoilette. “Die diens vir chemiese toilette moet twee keer per week plaasvind en vir puttoilette een keer per maand,” sê hy.
Volgens De Jager is die bewerings dat die diensverskaffer nie sy kontraktuele ooreenkoms nakom nie, ongegrond. “Onaangekondigde besoeke deur die munisipaliteit het bevind dat die diensverskaffer wel die dienste volgens die kontraktuele ooreenkoms lewer.”
De Jager sê tussen die munisipaliteit se departement van menslike nedersettings en die diensverskaffer word gesorg dat ’n diensregister op datum gehou word en deur ’n persoon wat aangewys is as verantwoordelik vir die spesifieke toilet onderteken word om aan te dui dat die diens gelewer word.
“Dié register word deur werkers ingevul na voltooiing van dienste. Die departement van menslike nedersettings kontroleer deurlopend die betrokke nedersettings”. Hy sê die munisipaliteit het met die voorsitter van Black Joint Informal Settlement (’n Miss Ronel) gekommunikeer en dat sy nie bewus was van enige toilette wat nie gediens is nie.
Volmoed
Die Hoorn het op 28 November foto’s van ’n betroubare bron ontvang van ’n Bidvesttrok met ’n lang streep riool/ontlasting wat agter die trok afgeneem is soos dit glo in die pad gestort is.
Navrae is per e-pos en WhatsApp aan Ilyas Ganey van Bidvest gestuur, op 29 November en 5 Desember. Op WhatsApp was dit duidelik dat die boodskappe gelees is, maar teen druktyd gister (Woensdag) is nog geen terugvoer ontvang nie.
Die Hoorn wou by Ganey die volgende weet:
Is die storting op Volmoed volgens veiligheidstandaarde gedoen, op paaie tussen mense, en in water wat deur mense gebruik word?
Hoe veilig is dit vir inwoners, veral vir kinders van die omgewing wat in hierdie paaie speel of moet skool toe loop? Is dit die regte manier om van riool/ontlasting ontslae te raak – om dit op grondpaaie te stort sonder enige chemikalieë wat moontlike virusse en bakterieë kan vernietig?
Wat is die eintlike prosedure wat Bidvest op Oudtshoorn gebruik om ontslae te raak van riool/ ontlasting? En word dit volgens wetgewing gedoen?
Hoe verduidelik Bidvest die storting van riool/ontlasting in die middel van ’n pad wat deur mense en diere gebruik word?
Op 28 November het die plaaslike bestuurder van Bidvest, ’n man met die naam Nazaar/Nezaar, redelik opstandig geraak na vrae van Die Hoorn se joernalis. Hy het in die Black Joint-geval verwys na die register wat deur inwoners onderteken word wanneer Bidvest hul dienste lewer, en gesê dat hy besig was om die Volmoed-saak te ondersoek. Hy kon geen aanduiding gee van hoe ver vordering met die ondersoek is of wat die uitkoms is nie. “Is dit hoe jy jou werk doen, deur om net mense te bel?” het hy Die Hoorn se joernalis gevra. (Deur Stefan Skapie Goosen)