‘Gevaarlike magte’ waarskynlik betrokke

Alan Winde, Wes-Kaapse premier Foto: Argief

’N DEEGLIKE ondersoek deur die Wes-Kaapse polisie-ombudsman, maj (afgetree) Oswald Reddy, toon dat bewerings van bande tussen bendelede en die Wes-Kaapse Polisiediens (SAPD) waarskynlik waar is.

Die ondersoek deur Reddy is op versoek van die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, gedoen na ’n verdoemende uitspraak van die Wes-Kaapse Hooggeregshof op 17 Oktober dat daar bewyse is dat bendelede die topbestuurstrukture van die SAPD in die Wes-Kaap geïnfiltreer en toegang het tot sleuteldokumente en strategieë oor misdaadbekamping.

“Ons moet binne ons beperkte mandaat oor hier­die kwessie optree om te bevestig wat baie inwo­ners van die Wes-Kaap lankal vermoed: dat party SAPD-lede met bendelede saamwerk en daardeur nie hul eed om te beskerm en te dien nakom nie, maar kies om bendegeteisterde gemeenskappe nog onveiliger te maak,” het Winde gesê nadat hy die finale verslag ontvang het.

Winde het aangedui dat hy tans Reddy se verslag oor die ondersoek bestudeer en verdere stappe oorweeg.

“Daar moet beslissende gevolge wees vir diegene wat gevind word dat hulle met bendes saamspan. Dit sluit senior amptenare in onder wie se toesig dit toegelaat is om te gebeur.

“Een van die eerste stappe wat ek vandeesweek gedoen het, is om met die SAPD se provinsiale kommissaris, lt genl Thembisile Patekile, te vergader om die bevindinge van die verslag te bespreek.

“Dit is duidelik dat dié infiltrasie waarskynlik veel verder strek as hierdie spesifieke geval, en ook dat gevaarlike magte hierby betrokke is.” (Deur Liesel le Roux)