Bridgton Mall vroegherfs oop

Bo: Rutger Boshoff (jr) wys waar drie kitsbanke in aanbou is by die nuwe Bridgton Mall. Onder: Bouwerk aan die Bridgton Mall vorder tans fluks.

DIE Bridgton Mall wat tans op Oudtshoorn in aanbou is, sal na verwagting sy deure in Maart 2023 kan open.

So sê Rutger Boshoff (junior) wat saam met sy pa, ook Rutger Boshoff, die ontwikkelaars van dié nuwe winkelsentrum in die hart van Bridgton is.

Bouwerk aan die eerste fase van die sentrum wat tussen Springbok- en Koedoe­weg geleë is, vorder tans fluks en Boshoff glo dat bouwerk begin Fe­bruarie voltooi sal wees. Hierna sal huurders hul winkels kan begin inrig.

Dié eerste fase van sowat 220 m² sal onder meer ’n groot supermark vir Shoprite, met ’n ruim slag­huis en ’n bakkery daarbinne, asook ’n aparte Shoprite-drankwinkel huisves.

Onderhandelings met belangstellende huurders oor nog ’n ruim winkelruimte wat beskikbaar is, word tans gevoer.

Die eerste fase sal ook drie kitsbanke huisves, onder meer vir Absa en Nedbank, terwyl volop parkeerplek aan die voorkant van die gebou en ruimte vir die aflaai van voorraad aan die agterkant beskikbaar sal wees.

Beplanning vir ’n tweede fase is ook reeds in die pyplyn, dié keer vir ’n aantal kleiner winkels waarvoor daar reeds ’n aanvraag was.

Boshoff sê hulle is dankbaar dat die bouwerk so ver gevorder is, omdat talle uitdagings die afgelope jare die boubedryf gestrem het, waaronder die Covid-19-pandemie waartydens bouwerk nie kon begin nie, die oorlog in Oekraïene wat ’n uitwer­king gehad het op die verkryging van sekere voorraad, soos die gespesifiseerde vloerteëls vir die su­- per­mark, en groot stygings in pryse in die bou­bedryf.

Hy praat met groot lof van Oudtshoorn se mense saam met wie hy moes werk, en die flink diens van die plaaslike munisipaliteit. “Ek het seker al in veertien munisipaliteite in die land gewerk en is regtig beïndruk met die plaaslike munisipaliteit en die professionaliteit van almal. Ek weet daar is mense wat kla oor die munisipaliteit, maar ek moet sê ek het tot dusver lekker gewerk in Oudtshoorn, saam met al die mense hier.”

• Die Boshoffs het die maatskappy oorgeneem wat aanvanklik ’n veel groter sentrum vir Bridgton beoog het wat in 2019 sou open. Omdat die eko­no­miese klimaat egter sedertdien baie ver­ander het, was dit nodig om die planne vir fase een van die sentrum aan te pas. (Deur Liesel le Roux)