DIE legendariese sanger Neil Diamond se lewe en musiekloopbaan word op Vrydag 7 April op Celebratio gevier wanneer Johan Liebenberg en sy orkes hulde bring aan dié sanger, een van die mees suksesvolle kunstenaars van alle tye.
Konsertgangers word genooi om reeds van 18:00 af saam met vriende en familie op die grasterras van Celebratio te kuier wanneer die kos- en drankstalletjies oopmaak. Dit beloof om ‘n feestelike aand onder die sterre van die Klein Karoo te wees.
Die konsert, getiteld The Music of Neil Diamond, word al vir amper tien jaar landwyd en in Namibië met groot sukses deur Johan opgevoer. Volgens hom pas hy gereeld die inhoud aan omdat Neil Diamond soveel treffers gehad het dat dit onmoontlik sou wees om almal van hulle in een konsert te sing.
Hy het ook interessante feite opgediep oor Neil Diamond – soos dat hy uitgeblink het in skermkuns (fencing) op skool en dat hy in die begin van sy loopbaan nie self gesing het nie, maar liedjies vir ander sangers geskryf het. Die bekendste hiervan is seker “I’m a Believer” van die groep The Monkeys.
“Hy het ‘n verstommende 38 top-tien-liedjies in sy loopbaan gehad,” vertel Johan. En hoewel hy ook van die minder bekende liedjies in die program insluit, sal daar volgens Johan altyd tyd wees vir die “gewildste van die gewildstes” soos “Sweet Caroline”, “Forever in Blue Jeans”, “Beautiful Noise”, “America”, “I am I Said”, “Play Me” en “Desiree”.
Vir Johan self is “America” een van die uitdagendste liedjies uit die repertoire van Neil Diamond om te vertolk. Van sy persoonlike gunstelinge sluit in “Morning Side” en “I am I said”. Morning Side is baie hartseer maar baie waar. Dit gaan oor ’n ou man wat sonder enig- iemand oorlede is. “I am I said” was een van die eerste songs van hom wat ek wou leer om te sing. Dit is van die album Hot August Night,” vertel Johan.
Johan bring sy ervare orkes saam en die hele idee is om die klank so na as moontlik aan die oorspronklike te bring. “Die musikante speel al lank saam met my en is ou hande in die bedryf.
Hulle is Rob Stemmet (baskitaar), Alan Lloyd (dromme). Andy Murray (kitaar) en Kyle Peterson (sleutelbord).
Hy kry selde die geleentheid om die produksie saam met die volledige orkes te doen, dus sien hy self baie uit na dié konsert. “Dis meeste van die tyd is dit net ek en my kitaar. Dit maak ’n reuse-verskil aan die klank as die hele band saam met my optree,” vertel hy.
Die vertoning, wat deel is van vanjaar se KKNK, begin om 20:00 en duur ongeveer twee ure, pouse ingesluit. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets en kos R250. Al die sitplekke is op stoele en gereserveerd. Vir meer inligting bel Gerhard Meyer, 0828027138.
