DIE ligte bries tref sy gesig.
Laat hom amper agteroor slaan.
Die los klippe onder sy voete skuifel en kraak in sy ore.
Amper soos die spleet wat so vars in sy borskas lê.
Die lug is baie dun hierbo, amper asof dit juis geen weerstand wil bied nie. Die vars suurstof spoel deur sy longe.
Sy arms uitgestrek.
“Christ the redeemer.”, maar met sy kop agteroor.
En dan val die herinneringe soos dobbelstene teen die agterkant van sy skedel.
’n Asemrowende uitsig lê voor hom, Graaff-Reinet vêr onder.
As hy gekyk het, sou hy gedink het dat Randall dit mooi gestel het met “Sondagsrivier het jou mooi omgesoom”.
Maar sy kop talm nog by die ongesluite deur wat te maklik oopgegly het.
Die radio wat kliphard in die leefvertrek gespeel het.
Die onderklere wat halflyf oor die bank se ruglening lê.
Die musiek wat deur die gange klop.
Die boodskap wat nog in sy e-pos lê en brand.
“As gevolg van die onlangse verwikkelinge, is dit ons onaangename taak om u in kennis te stel…”
Hy voel hoe ’n rukwindjie sy groottone laat verstewig teen die trek van die afgrond se swaartekrag.
Hy voel ’n steekpyn in sy achilles, ironies, dink hy, terwyl hy voel hoe die wind oor sy palms vryf.
Hy ruik spekbos, maar hy besef nie dat dit spekbos is nie.
Hy sou sonder twyfel kon antwoord dat spekbos geen reuk het nie, maar niemand het hom nog ooit gevra nie.
Vir ’n oomblik kyk hy af ver na die dorpie onder hom.
Daar waar hy vanoggend vroeg die boodskap op sy skerm sien blink het. “Dit is nie vir my lekker om dit vir jou te vertel nie, maar…”
’n Dassie skarrel oor ’n los klippie, wat hom amper vooroor laat tuimel, sy blik vang die das se laaste agterbene soos dit in ’n rotsskeur in verdwyn. Hy wens hy kon in ’n rotsskeur in verdwyn.
Maar hy besef dat daar geen meer plek op aarde is om weg te kruip nie.
Die onaangename stemboodskap sleur saam met die vars lug van die Karoo deur sy ore.
“Jis man, ek weet nie hoekom dit nou my k@k job moet wees om jou te vertel nie pel, maar ek dink dis beter as jy dit maar eerste by my hoor…”
Vir ’n oomblik voel hy soos ’n stywe-tou akrobaat.
In ’n hartseer equilibrium. Hy lig sy een voet stadig.
Hou sy arms uitgestrek.
’n Nar in die sirkus, wat sy lewe geword het.
Hy hou sy balans, teen sy wil.
Hy buig sy knie sodat dit ’n loodregte hoek met sy onderbeen vorm.
Perfekte vorm, sou hy sê.
Dalk nou ’n bietjie laat…
Dan leun hy half vorentoe, heeltemal te waaghalsig.
Sy kop nou voor hom uitgespan, sy bors vreesloos teen die afgrond.
Sy arms bly uitgestrek.
Sy been nou komies uitgestrek langs sy sy.
Sy balans bly tog.
“Maak tog net vinnig” skiet die gedagtes deur sy kop!
“Net so, net so, Pappa!”
“Dis perfek!”
Hy hoor hoe die selfoon-kamera agter hom ’n klikgeluid maak.
“Het jy hom?” skree hy vinnig voordat hy sy voet weer stewig op die grond plaas.
“Jy’t my amper hier laat afval jong”, glimlag hy terwyl hy na haar stap en haar hare vryf.
“Toe, laat ek sien.”
“Jou pa lyk darem soos ’n regte hanswors, nê?”
“Nooit pappa! Dis ’n baie cool foto.”
Hulle stap saam na sy ou, verslete motor.
Glip in en sukkel om die geroeste deure toe te slaan.
“Mamma sou darem ook gedink het dis ’n mooi foto, nê?”
Hy knik sy kop.
Vallei?
Deur Johnny Malgas