’n Dokter met hart vir mense

Dr. Wessel Vermeulen wat deur die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMA) vereer is vir sy uitstaande bydrae tot mediese uitnemendheid, leierskap, diensbaarheid en gemeenskapsbetrokkenheid. Gelukwensings het van regoor die wêreld ingestroom vir die geliefde dokter van Oudtshoorn. Foto: Dokter Vermeulen Praktyk Facebook-blad

“’n Dokter behoort nie erkenning te verwag vir dit wat in wese deel is van ons daaglikse plig nie. Dit is ’n voorreg om ’n dokter te wees. Om jou roeping te vervul en waarde toe te voeg tot die lewens van die mense rondom ons, vorm deel van ons verantwoordelikheid teenoor beide ons beroep en die samelewing.

“Om ’n dokter te wees, moet ’n roeping wees en nie ’n ambisie of geldgedrewe strewe nie. Dit gaan ook nie oor ego of kompetisie om te wys hoe goed jy is nie! Jou hoofdoel moet altyd wees om jou gemeenskap en land te dien en te lei ,” het dr. Wessel Vermeulen aan Die Hoorn gesê.

Die kollig het die afgelope week op Oudtshoorn se baie beskeie dr. Vermeulen geskyn ná hy met ’n gesogte toekenning van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMA) vereer is vir sy uitstaande bydrae tot mediese uitnemendheid, leierskap, diensbaarheid en gemeenskapsbetrokkenheid. Die toekenningsgeleentheid het vanjaar van 22 tot 24 Mei in Durban plaasgevind.

Die SAMA-toekennings word jaarliks toegeken aan individue wat nie net in hul mediese beroep uitblink nie, maar ook ’n volhoubare impak op die breër samelewing maak. Dit erken dokters wat verder gaan as die spreekkamer – mense wat lei-ding neem, gemeenskappe dien en ’n nalatenskap van omgee bou.

Vir Oudtshoorn is dr. Vermeulen se erkenning nie ’n verrassing nie, maar eerder ’n bevestiging van wat reeds lankal duidelik is: ’n dokter wat met hart en siel omgee en sy hande én hart oopmaak vir elke persoon wat oor sy pad kom.

Kollegas, skole en gemeenskapslede beskryf hom as ’n formidabele mens met integriteit, visie en onwrikbare toewyding. Hy is nie net ’n mediese praktisyn nie, maar ook ’n opvoeder, mentor en leier wat oor dekades heen by verskeie skole en beheerliggame betrokke was.

Oral waar hy betrokke was, het hy tyd gemaak vir mense en hulle sy volle aandag gegee – of dit in die spreekkamer, ’n winkel of by ’n gemeenskapsfunksie was.

Onder die instellings waar hy ’n merk gemaak het, is Laerskool Wesbank, Hoërskool Oudtshoorn en ander plaaslike skole, waar hy in bestuurs- en beheerstrukture gedien het en aktief gewerk het om standaarde, veral in wiskunde-onderrig, te verbeter. Sy fokus was altyd die kind, veral dié in minderbevoorregte omstandighede.

Hy het self beklemtoon dat sy hart lê by kinders wat afgeskeep of onregverdig behandel word, en dat sy betrokkenheid by skole en vaardigheidsentrums soos Eljada, Rooiheuwel Primêr en die Vaardigheidskool vir hom net so belangrik soos sy mediese werk is.

Tydens die Covid-19-pandemie het hy ook ’n kinderboek, Die stoute Corona, geskryf. As oupa het hy die vrees en onsekerheid in sy kleinkinders se oë raakgesien en gehoor waaroor hulle saans wonder. ’n Projek wat beslis sy menslikheid, kreatiwiteit en empatie verder onderstreep en sy veelkantige talente bevestig.

Ná sy SAMA-erkenning het gelukwensings van oral oor ingestroom. Skole, oud-kollegas en gemeenskapslede het hom beskryf as ’n “ware le-gende in die mediese professie”, ’n “ambassadeur van omgee” en ’n inspirasie vir almal wat hom ken.

Sy nalatenskap van uitnemendheid en daaglikse impak op mense se lewens word wyd erken en waardeer.

“Om geleenthede en fasiliteite vir mense te skep, veral vir die wat minder bevoorreg is, behoort as deel van ons verantwoordelikheid beskou te word. Om waarde toe te voeg, ondersteuning en empatie te bied, en voortdurend die ekstra myl te loop, behoort die natuurlike impuls van enige geneesheer te wees.”

“Geneeskunde is moontlik die enigste beroep waar ’n mens jou verstand, siel en hande moet gebruik om ’n pasiënt te genees en hulle vertroue te kry. Die beste manier om jouself te vind, is om jouself te verloor in diens van jou gemeenskap. Die beoefening van geneeskunde is ’n kuns, nie ‘n ambag nie – ook ’n roeping, nie ’n besigheid nie – ’n roeping waarin jou hart net soveel as jou verstand gebruik sal word.”

Hy aanvaar hierdie erkenning van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging met opregte waardering en nederigheid.

“Ek en my gesin is ook oorweldig deur die goedhartige en liefdevolle wyse waarop die gemeenskap van Oudtshoorn en die Suid-Kaap op die toekenning gereageer het. Dit laat ons half hartseer, nederig en dankbaar voel.” sluit hy af.

Hy het verder verwys na sy jarelange betrokkenheid by skole en hoe hy sedert 1979 reeds werk om standaarde te verbeter, veral in wiskunde-onderrig.

Vermeulen het ook ’n groot rol gespeel in sport op speler vlak, provinsiaal kleure in beide rugby en tennis verwerf, en spog met 16 jaar diens as SWD en Oudtshoorn klub spandokter.

Hy het ook op SARU se mediese komitee gedien. Hy was ook verras dat kollegas regoor die land en selfs internasionaal hom gekontak het oor die impak van sy werk in beide die mediese en onderwysvelde.

Ten spyte van sy ongemak om in die kollig geplaas te word, is dit duidelik dat die gemeenskap hom met groot trots vier.
Dr. Wessel Vermeulen se verhaal is uiteindelik dié van ’n mens wat oor grense heen dien – in spreekkamers, skole, bestuursvergaderings en in die lewens van gemeenskappe.

Sy SAMA-toekenning bevestig wat baie lank reeds weet: sy invloed strek veel verder as sy beroep. (ANGELIQUE ERASMUS)

Lees ook:

Vermeulens borg eerste hondehok

Land gons oor dr Wessel

Waarom verlaat medici die land?