Land gons oor dr Wessel

Dr Wessel Vermeulen vroeër vanjaar waar hy ’n praatjie by ’n skool op Oudtshoorn gelewer het. Foto: Schalk le Roux

’N FACEBOOK-INSKRYWING wat dr Wessel Vermeulen, ’n algemene paraktisyn van Oudts­hoorn, op 10 Augustus op die Facebook-bladsy van sy praktyk geplaas het, het die hele land aan die gons.

Teen gister is die inskrywing, Covid 19 – Om te ent of nie te ent nie? op die Facebook-blad Dokter Wessel Vermeulen Praktyk meer as 8 500 keer deur mense gedeel, met meer as 3 000 mense wat kommentaar gelewer het.

Vrye Weekblad het ook vandeesweek Vermeulen se omvangryke skrywe as ’n meningstuk op hulle selfoontoepassing geplaas.

Vermeulen is by sy pasiënte bekend as ’n belese dokter wat op hoogte bly van die jongste navors­ing. Hy het boonop die gawe om in “gewone Afrikaans” oor mediese kwessies te skryf en het oor die jare ook al waardevolle bydraes tot Die Hoorn gelewer.

Vermeulen, begin sy inskrywing so:
“Ek verstom my elke dag hoe vinnig die sosiale media mense, met geen mediese opleiding of kennis, binne minute in kenners, spesialiste en alles­wetendes kan omvorm. Gooi nog ’n skeut gods­diens by en jy as geneesheer word daagliks deur rigters, profete, nuut selfaangestelde en selfgeleerde kenners met ‘onweerlegbare bewyse’ na ‘ure se YouTube-navorsing’ gekonfronteer en sou jy verskil, bars die hel om jou los en begin die Bybelse aanhalings op jou reën.”

Met sy bekende humorsin deel Vermeulen dan sy kennis oor die virus na aanleiding van die baie vrae wat hy op gereelde basis van mense ontvang:
“Gooi nog ’n skeut politiek, korrupsie, same­swering en sieners by en siedaar…….moenie op geneeshere en hulle foefies vertrou nie….hulle is almal kop in een mus met Poetin, Trump, X Jinping, Bill Gates en straks die Tandemuis en Paashaas ook, en ons almal is deel van die sameswering om die wêreld oor te neem of om net geld te maak.

“Dit terwyl die hele wêreld se gesondheidswer­kers letterlik elke minuut van die dag steier teen die aanslag van ’n verwoestende pandemie met tragiese en afgryslike lyding. Ons is beslis niemand volmaak en volleerd oor die nuwe virus nie, ons leer elke liewe dag iets nuuts en ja, ons (en ons gesinne) word lelik blootgestel en rol ook in die nag in onsekerheid rond.”

Met talle aggressiewe reaksies van mense wat ongelukkig deesdae op bykans alle inskrywings op Facebook volg, het Vermeulen ’n paar dae later klakouse versoek om maar eerder sy praktykblad te verlaat.

Hy skryf: “Ek sal dit so waardeer as al die ou kla- en bitterbekke nou maar van my praktykblad afgaan, asb met alle respek – niemand hoef hulle te laat inent teen hulle sin nie, dis OK regtig, maar dit is nie jou reg om op my kommunikasie met my vriende en pasiënte mense links en regs te kom beledig nie.”

Vermeulen het verlede jaar, kort na die aanvang van die Covid-19-pandemie, ’n kinderboek oor die virus geskryf, wat in Afrikaans en Engels beskikbaar is.

Hy het Die stoute Corona as ’n oupa vir sy kleinkinders geskryf nadat hy hulle bang ogies gesien het en gehoor het wat hulle saans bid, het Vermeulen gesê.

“Ek het deur my kleinkinders bewus daarvan geword dat kinders vrese en vrae het oor die virus en daar en dan besluit om vir hulle ’n storie te skryf.” (Deur Liesel le Roux)