Rabie-verhoor word in November hervat

DIE saak teen ’n egpaar van Oudts­hoorn wat hulle na bewering met onwettige staatstenders verryk het, is in die Oudtshoorn Streekhof tot 8 en 9 November uitgestel omdat hul nuwe regsverteenwoordiger nog nie die volle transkripsie van die verhoor tot dusver ontvang het nie.

Die staat beweer dat Marthinus Rabie, ’n voormalige tegnikus in diens van die Wes-Kaapse Departement van Landbou by die Oudts­hoorn-proefplaas, sy vrou, Johanna Rabie, se twee beslote korporasies, Attaqua en Gwaiing Ontwikkelings, tussen 2006 en 2008 bevoordeel het met die toekenning van tenders.

Miljoene rande is by die saak betrokke.

Hul nuwe regsverteenwoordiger, Henry van Breda, het die hof om uitstel gevra.

Streeklanddros Daniel Boks het die saak vir twee dae se verhoor uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)