Dr. Wessel Vermeulen, algemene praktisyn en voorsitter van SAMA (Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging) het op Saterdag 5 Oktober tydens die SAMA-kongres by Surval sy kommer uitgespreek oor die aantal geneeshere wat SA verlaat. Hy het sy opinie en sommige kontensieuse kwessies openlik met kongresgangers gedeel.
Hy sê daar is talle faktore wat daartoe bydra dat die land kundiges verloor. Een van die groot faktore is die hoë misdaadsyfer in die land asook oormatige demografiese vereistes t.o.v. mediese keuring sowel as politiese besluite rondom die NGV en CON (die wet waar die staat wil besluit waar dokters moet en mag praktiseer).
Die land gaan gebuk onder grootskaalse korrupsie, swak bestuur en dienslewering in baie staatsinstellings. Daar is gebrekkige befondsing in staatshospitale om gekwalifiseerde geneeshere in poste aan te stel. Mense ervaar ook onsekerheid oor hulle kinders se toekoms en geleenthede in Suid-Afrika.
Uit ondervinding getuig Vermeulen dat dokters “geterroriseer” word met toenemende administratiewe vereistes van mediese fondse, hemelhoë versekeringsvereistes in die privaatsektor en hoë insetkostes om praktyke nie net te bou nie, maar ook oop te hou.
“Nie net verloor ons land en sy mense broodnodige onvervangbare kundigheid nie, maar ook miljoene rand se belasting wat deur die dokters betaal sou word,” sê hy.
Hy wys ook daarop dat die staat miljoene en miljoene spandeer aan studente se oorsese studies wat terugkeer en nie die mas opkom nie. “Dit is ontstellend dat miljoene jaarliks spandeer word om mediese studente wat waarskynlik nie ons streng keuringsvereistes vir me- diese studies sou slaag nie, op staatskoste na veral Oos-Europa, China en Rusland vir studies te stuur.
Meeste sukkel om die tale daar baas te raak en misluk in hulle studies. Na hulle oorsese studies slaag minder as 40% die toelatingsvereistes om in Suid-Afrika te werk.”
Hy voeg by dat die geld veel beter aangewend kan word om meer mediese studente in Suid-Afrika op te lei en om die honderde dokters wat alreeds in die land gekwalifiseer het, in vakante poste aan te stel.
Die aanstel van Kubaanse en ander “volksvreemde” dokters in die land ten koste van dokters wat hier opgelei is, is vir hom ’n verdere bron van kommer.
“Hierdie geneeshere het nie die kurrikulumkennis wat tipies is aan Suid-Afrika se behoeftes nie en gebrekkige taal- en kommunikasievaardighede kan verhoogde risiko’s veroorsaak.”
Daar is ook ’n gebrek aan die skep en bou van broodnodige nuwe fasiliteite en powere beheer en onderhoud van bestaande fasiliteite.
Vermeulen sê dat die Suid-Kaap vir hom ’n ligpunt is en sluit daarmee af: “Dit moet genoem word dat die Suid-Kaap besonderse gelukkig is om van die beste staatshospitale in die land te hê waar gemotiveerde, goed opgeleide personeel uitste-kende diens verrig en die ondersteuning en waardering van die publiek verdien.”



