Franklin Delport eers in 2025 verhoor

Die saak teen ’n Bridgton-man wat van moord en regsverydeling aangekla word, is verlede week as gevolg van ’n vol hofprogram vir verhoor tot 2025 uitgestel. Franklin Delport (54) word van die moord op Flip Hendricks op 8 April 2024 aangekla.

Delport het glo die dag vir Hendricks opgelaai en na sy huis gery waar hulle na bewering in ’n argument betrokke was.

Hulle het daarna na die Bridgton vulstasie gery, waar Hendricks met ’n bebloede hemp uit die bakkie gespring en toe inmekaar gesak het. Delport het met sy borgtogaansoek aangedui dat hy onskuldig sal pleit omdat hy uit selfverdediging opgetree het.

Die saak dien voor streeklanddros Ntsoko Moni en is vir verhoor tot 1 Oktober 2025 uitgestel. (GARNETT WICOMB)