SAMA hou konferensie

Jan Adlam, Wessel Vermeulen, Yolanda Swart, Douglas Seton, Engela Lange, H.W. Snyman, Coenie Pieterse, Leigh Johannes, Nancy Ekkerd en Jakes Maritz tydens die SAMA-kongres. Foto verskaf Onder: Dr Douglas Seton verwelkom kongresgangers en sprekers. Foto verskaf

Verskeie mediese kwessies tydens kongres toegelig
Dr Douglas Seton, president van SAMA-Outeniqua het kongresgangers verwelkom en die wat nog nie lede is nie genooi om by SAMA aan te sluit. Hy het beklemtoon dat die mediese professie sy outonomiteit en standaarde moet beskerm en as kragdadige eenheid die nasie se gesondheid en die geneeshere se toekoms moet beskerm. Hy het daarna die sprekers aan die woord gestel.

Dr. Jan Adlem (ginekoloog)
Dr Adlam se lesing het gehandel oor nuwe ontwikkelings in die hantering van verskillende blaasprobleme wat vroue kan ervaar, die ondersoek en diagnose van tientalle oorsake, nie-mediese behandelings soos fisioterapie en oefeninge en konserwatiewe behandeling met voorkoming en medikasie. Hy het ook verskillende operatiewe oplossings bespreek.

Dr. Coenie Pieterse (chirurg) is een van die nuwe toevoegings by Life Bayview. Hy het ’n aanbieding oor al die aspekte rondom borskanker bespreek. Diagnostiese prosedures en verskillende behandelingsopsies is behandel en heelwat ou en nuwe benaderings is deeglik deurgetrap.

Dr. Leigh Johannes (nefroloog) is die Suid-Kaap se eerste nefroloog en het nierversaking in diepte op ’n baie interessante manier bespreek. Sy is ook in beheer van die meeste nierdialise-eenhede in die streek en vervul ’n jarelange behoefte.

Dr. Engela Lange (hematoloog en patoloog) van Pathcare is ook ’n gerekende motiverings-spreker t.o.v etiek op alle gebiede. Sy het ook ’n meestersgraad in filosofie en is steeds besig met navorsing en studies. Sy het ’n uiters insiggewende lesing oor die verskillende aspekte, navorsing, oplossings en suksesse wat deur die verbetering van kommunikasie bereik kan word, gegee.

Dr. H.W. Snyman (kardioloog) van Mosselbaai het die nuwe beroertekliniek by Bayview bekend gestel. Sy lesing was meer spesifiek oor die intervensionele hantering van beroerte waar die klont wat ’n groot breinvat totaal afsluit (en dus lewensgevaarlik is of die pasiënt met erge gestremheid gaan agterlaat) binne minute d.m.v. klein insnydings in die lies verwyder kan word. Die sukses-en risikosyfer van die nuwe tegnieke is verstommend en die Suid-Kaap is uiters bevoorreg om een van die heel suksesvolste eenhede te hê.

Voorleggings is daarna ook deur die verteenwoordigers van Life Bayview en Standard Bank gedoen.


SAMA Outeniqua bied mini-kongres aan

Die kongres vir mediese praktisyns wat op 5 Oktober deur SAMA Outeniqua (Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging) by Surval aangebied is, was die vierde een vir Oudtshoorn. ’n Groot groep mediese praktisyns van die Suid- en Wes-Kaap sowel as die Karoo het dit bygewoon.

Life Bayview Privaathospitaal, een van die borge, het spesialiste saamgebring om lesings aan te bied en veral nuwe ontwikkelings op verskeie vakgebiede met kongresgangers te deel.

Die organiseerders het ook hulle dank teenoor Standard Bank en Servier vir ruim borgskappe uitgespreek.

SAMA-Outeniqua is in 1982 deur drs Pietie du Toit (foto onder), Wessel Vermeulen, Jan Maritz, Nic Zerbst en Hentie Louw gestig. Dr Du Toit was die eerste voorsitter en dr Vermeulen is sedert 1994 die voorsitter. Die huidige takraad bestaan uit dr Douglas Seton (president), dr Clifford van Wyk (spesialisverteenwoordiger), dr Engela Lange (nasionale verteenwoordiger), dr John Beneke (GPs Eden, Langeberg en Wes-Kaap) en dr Jakes Maritz (GPs Klein Karoo en Karoo). Die senior takadministrateur is Yolanda Swart. Sedert 1982 het die tak tot een van die mees suksesvolle SAMA-takke in die land gegroei.

SAMA lê veral klem op Voortgesette Mediese Onderrig (VGO) met kollegiale en gemeenskapsondersteuning en heelwat projekte is die afgelope jare, veral op Oudtshoorn, aangepak.

SAMA se waarde vir die mediese beroep

SAMA veg elke dag om dokters se bestaansreg en suksesvolle onafhanklike praktykvoering te be-skerm en beveg ondeurdagte regeringsbesluite t.o.v. die land se gesondheidstelsel.

SAMA is die enigste doktersgroepering met direkte toegang en kredietwaardigheid by die regering.

Die voortsetting van uitnemende hoë standaard van mediese sorg in privaat- sowel as staatsinstellings word bedreig en dit is van die uiterste belang dat SAMA en alle geneeshere in groot getalle in ’n kragtige, respekvolle en pro-aktiewe eenheid saamsnoer.

SAMA publiseer die tydskrifte SAMJ, INSIGHT en SA INTERN wat lede gratis ontvang en SAMA is deurentyd in voeling met mediese skole oor leerplanne en keurvereistes.
Deur hulle werksaamhede streef SAMA daarna om die mediese professie nie net te beskerm nie, maar ook te sorg dat landsburgers die beste moontlike mediese sorg ten spyte van talle uitdagings ontvang.

Projekte en gemeenskapsbetrokkenheid van SAMA

Die afgelope vyf jaar is studiebeurse van R120 000 jaarliks aan mediese studente uit die Suid-Kaap toegeken.

SAMA-bestuurslede besoek gereeld provinsiale hospitale en klinieke sowel as privaat praktyke om jong dokters met raad by te staan en reël ook funksies waar geneeshere met mekaar kan skakel.

Bykans R60 000 word maandeliks aan gestorwe lede se behoeftige weduwees en afhanklikes in die streek gegee en word jaarliks verhoog.

Die jaarlikse “Ons soek nog ’n Breyton”-netbal- en rugbydag vir ongeveer 800 leerders van landelike skole word by Rooiheuwel Primêr aangebied en word deur ondernemings op Oudtshoorn geborg. Verdere betrokkenheid by die gemeenskap behels die verskaffing van sportklere en onderrigmateriaal aan leerders. Fondse word ook jaarliks bewillig om sentrums wat na behoeftige kinders omsien te ondersteun.
So is vanjaar R50 000 bewillig aan Eljada se outistiese afdeling vir die opknapping van hul ablusiegeriewe en rolstol-areas.