’n 29-jarige man is in hegtenis geneem nadat ’n 23-jarige man na bewering Saterdagmiddag, 23 Mei, tydens ’n bakleiery in Oudtshoorn gesteek is.
Volgens AO Chris Spies, media-skakelbeampte van die SAPD in die Suid-Kaap, het polisielede omstreeks 13:45 op ’n voorval by ’n kruidenierswinkel in Rademeyerstraat gereageer.
Met hul aankoms op die toneel het hulle die slagoffer met ’n steekwond aan die kop aangetref.
Spies sê ’n saak van poging tot moord is vir verdere ondersoek geopen en ’n 29-jarige verdagte is daarna in verband met die steekvoorval in hegtenis geneem. Die polisie het Maandag bevestig dat die verdagte steeds in aanhouding is en in die hof sal verskyn sodra hy aangekla is.
Klein Karoo Markt se bestuur het intussen gesê hulle het die voorval met groot kommer kennis geneem.
“Ons gedagtes is eerstens by die beseerde persoon en sy familie. Ons wens hom ’n spoedige en volle herstel toe,” het die bestuur in ’n verklaring gesê.
Volgens die verklaring het die voorval omstreeks 13:29 plaasgevind toe ’n groep verdagtes glo ’n man vanaf Rademeyerstraat tot op die winkelsentrum se perseel agternagesit het.
Die bestuur sê nood- en sekuriteitsmaatreëls is gevolg, die SAPD het vinnig gereageer en die sekuriteitsmaatskappy wat deur die sentrum gebruik word, het spoedig opgetree, waarna bestuur onmiddellik van die voorval in kennis gestel is.
Daar word verstaan dat die kruidenierswinkel waar die voorval plaasgevind het, se sekuriteit apart van die winkelsentrum se sekuriteit funksioneer.
Nooddienste het die beseerde persoon op die toneel behandel waarna hy per ambulans vir verdere mediese sorg vervoer is. Hy is later ontslaan.
“Ons is dankbaar vir ons sekuriteitspersoneel wat vinnig opgetree het, asook die SAPD en nooddienste vir hul reaksie op die voorval,” lui die verklaring.
Die bestuur het bevestig dat hulle ten volle met die polisie saamwerk en die ondersoek ondersteun. Die ondersoek duur voort.
Steekvoorval laat gesinne ontsteld
Inwoners het intussen hul ervaring van die voorval gedeel. Sommige het vertel dat hulle die voorval aanskou het, terwyl verskeie gesinne hul kommer uitgespreek het omdat klein kinders glo in die winkel of naby die toneel was toe die voorval plaasgevind het.
Sielkundiges waarsku dat geweldsvoorvalle in openbare ruimtes ’n emosionele impak op kinders kan hê, veral wanneer hulle dit aanskou.
Ouers word aangeraai om kinders na sulke voorvalle gerus te stel, met hulle oor die ervaring te praat en op te let vir tekens van angs of emosionele ontsteltenis.
Wat kan ouers doen na ’n traumatiese voorval?
• Bly so kalm as moontlik wanneer jy met kinders praat.
• Stel kinders gerus dat hulle nou veilig is.
• Laat kinders toe om vrae te vra en oor hul gevoelens te praat.
• Vermy grafiese beskrywings of voortdurende blootstelling aan video’s en foto’s van die voorval.
• Hou by gewone roetines vir stabiliteit.
• Let op vir tekens soos nagmerries, angstigheid, stilte of veranderde gedrag
• Kry professionele hulp indien ’n kind vir ’n lang tyd emosioneel ontstel bly. (MALISSA SPIES)
Lees ook:
