Dr Wessel en Marlene Vermeulen van die plaas Arbeidsvreugde op die Rooiheuwel-pad buite Oudtshoorn is die eerste familie wat ’n hondehok van die Oudtshoorn Diereherberg borg op hul nuwe perseel skuins oorkant die Oudtshoorn rioolwerke.
Die Vermeulen-familieplaas borg ’n hok teen R5 000 per jaar. ’n Bord met hul plaas se naam gaan teen die hok opgesit word. Hulle is nie net die eerste borg van hierdie aard by die Oudtshoorn Diereherberg nie, maar hulle daag ook al die plase in die Oudtshoorn omgewing uit om dieselfde te doen.
Hierdie jaarlikse fooi gaan ’n baie belangrike rol speel in die onderhoud van hierdie hokke. Wat ook as voordeel dien vir die borg is dat dit terug geëis kan word teen belasting, waarvoor hulle in die proses is om aansoek te doen. Daar is sewentien hokke wat geborg kan word.
Ansa de Jager, stigterslid en voorsitter van die Oudtshoorn Diereherberg, sê dat dit ’n groot onderneming is om hierdie hokke te bou en dat die bou- en onderhoudkostes van hierdie perseel astronomies is.
Oudtshoorn het egter geen ander perseel soos hierdie nie en dit is uiters noodsaaklik vir die dorp. “Dit is die enigste welsynperseel in die dorp wat diere kan inneem op hierdie stadium”, het De Jager aan Die Hoorn gesê. (Deur Lindi Brill)
Vermeulens borg eerste hondehok
Die nuwe hokke wat deur die Oudtshoorn Diereherberg gebou word op hul nuwe perseel buite Oudtshoorn. Plaaseienaars word deur die Vermeulen-gesin van die plaas, Arbeidsvreugde, op die rooiheuwel-pad, uitgedaag om ook ’n hok te borg wat sal help met die jaarlikse onderhoud van die hokke. Foto: Lindi Brill