Minister lewer titelaktes aan inwoners met gestremdhede

Minister Tertuis Simmers oorhandig titelaktes aan inwoners met gestremdhede. Op die foto van links is die burgemeester van Oudtshoorn, Chris Macpherson, Sophie Lukas, een van die begunstigdes, Minister Tertuis Simmers en raadslid Liluth Van Rooyen. Foto: Verskaf

Provinsiale Minister van Infrastruktuur, Tertuis Simmers, het op Vrydag, 11 April 2024, saam met die Uitvoerende Burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Raadslid Chris Macpherson, Raadslid Liluth Van Rooyen en Raadslid Christine Muller, deur-tot-deur titelaktes aan begunstigdes met gestremdhede in Dysselsdorp se woningsprojek afgelewer.

In ’n persverklaring van Ntobeko Mbingeleli, die woordvoer-der vir Provinsiale Minister Tertuis Simmers, is daar genoem dat hierdie inisiatief ’n merkwaardige prestasie vir die gemeenskap verteenwoordig, wat suksesvol 459 huise as deel van die ontwikkeling gelewer het.

“Hierdie geleentheid is deel van die departement se pogings om Vryheidsmaand te herdenk en te verseker dat alle lede van die gemeenskap voordeel trek uit veilige huiseie-naarskap.”

Raadslid Chris Macpherson, tesame met Mayco-lede, raadslede en amptenare van die Departement Menslike Nedersettings, het by die Wes-Kaapse Minister van Infrastruktuur, Tertuis Simmers, aangesluit in hierdie deur-tot-deur-oorhandiging van titelaktes aan 11 begunsdigdes. Minister Simmers het die krag van hierdie bewyse beklemtoon wat volle eiendom van die wonings aan hul regmatige eienaars oordra, en sodoende beide hul verantwoordelikhede en bates erken.

Met dankbaarheid het Burgemeester Macpherson opgemerk: “Ek betuig my hartlike waardering aan die Wes-Kaapse Minister van Infrastruktuur vir die eer wat hy Dysselsdorp met sy teenwoor-digheid betoon het om hierdie bewyse persoonlik te oorhandig.”

“Dit is belangrik om te weet dat behuising ’n funksie van die Nasionale en Provinsiale Regering is en nie van munisipaliteite nie. Munisipaliteite stel slegs grond beskikbaar vir die ontwikkeling van behuising.”