Die verhoor van ’n egpaar van Oudtshoorn wat tereg staan op 37 aanklagte van bedrog waarby miljoene rande betrokke is, is in die Oudtshoorn streekhof na die kruisondervraging van die vrou, Johanna Elmarie Rabie, en die sluiting van die staat se saak, tot 29 April uitgestel.
Marthinus Rabie, ’n voormalige tegnikus in diens van die Wes-Kaapse Departement van Landbou by die Oudtshoorn proefplaas, en sy vrou, Johanna Elmarie Rabie, se twee beslote korporasies, Attakwa en Gwaiing Ontwikkelings, het glo tussen 2006 en 2008 hulself verryk met staatstenders wat hulle op ’n slinkse wyse bekom het.
Die verdediging het die hof om uitstel vir herondervraging gevra na die kruisondervraging van Rabie.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het dit aan haar gestel dat sy haar man probeer beskerm en hy by feitlik alle projekte van haar twee koöperasies betrokke was.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks en die egpaar is uit op waarskuwing. (Deur Garnett Wicomb)
Staat sluit saak teen Rabie-egpaar
