Munisipalteit beloof om dié besettings dringend stop te sit

ONWETTIGE informele strukture verrys die afgelope week in verskeie oop spasies in dele van Bridgton, Toekomsrus en Bongolethu op Oudts­hoorn.

Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, is die munisipaliteit bewus van die onwettige besettings regoor die Groter Oudtshoorn-gebied en is hulle besig om dringende regsadvies in te win om dit wettig stop te sit en die plakkers uit te sit.

“Ons het ook gerugte gehoor dat die same­roepers of organiseerders van die grondbesetters die erwe ‘verkoop’ of geld vat van die onwettige plakkers,” sê hy.

Ontevrede inwoners van dié woongebiede het die afgelope week aan Die Hoorn gesê dat hulle bekommerd is oor dié informele strukture wat skielik begin het om oral tussen gevestigde huise te verrys. Van hulle het vertel dat “nuwe inwoners” sonder toestemming water uit hul krane gebruik en hulle vrees dat die onbeheerde toename van inwoners ook tot ’n toename in misdaad sal lei.

Onmin verlede week in Petunialaan in Bridgton wat tot die sluiting van die straat gelei het, het vermoedelik gespruit uit onmin tussen inwoners en van die nuwe intrekkers.

Intussen sê van die mense wat beoog om informele strukture op te rig, dat hulle al jare op erwe van die munisipaliteit wag en besluit het om die voorbeeld te volg van die Backyard Dwellers wat einde verlede jaar informele strukture by die gholfbaan opgerig het. Die munisipaliteit het intussen water en toiletgeriewe verskaf aan die Backyard Dwellers in dié gebied wat nou as Hopeville be­kend staan.

Op die oop stuk grond langs die Bongolethu-sirkel op die hoek van Zebraweg en 12de Laan is “erwe” vir meer as 100 strukture reeds uitgemerk. Die “erwe” is gisteroggend netjies skoongemaak, met kliprandjies rondom, terwyl gate gegrawe is vir die plant van pale.

Seppie Michaels (71) se dogter wat reeds vir haar informele struktuur boumateriaal by ’n plaaslike winkel gekoop en laat aflewer het, is volgens haar pa gisteroggend na die munisipaliteit om te vra vir nog boumateriaal.

“Ons het reeds Maandag hier begin skoonmaak. Die munisipaliteit ry heeltyd hier op en af, maar niemand kom praat met ons nie,” sê hy.

Volgens hom wag hulle reeds jare vir hul eie erwe en het hulle nog nooit gekry wat die munisipaliteit hul belowe het nie.

“Ons het besluit om hier te kom bly, omdat die mense van Hopeville toiletgeriewe en water gekry het nadat hulle op die grond langs die begraafplaas gaan plak het,” sê Michaels.

Dinsdagoggend was die raamwerke van drie strukture al daar opgesit.
Mangqwengqwe het dit benadruk dat daar planne is vir meeste van die oop stukke grond in die omgewing.

“Die grond by Hoërskool Morestêr is uitgesit vir maatskaplike behuising.

“Dit is ook belangrik dat mense weet dat wanneer die munisipaliteit behuisingsprojekte voltooi vir mense op die behuisingswaglys, die huise geallokeer word volgens die munisipale beleid wat bepaal dat dié wat die langste wag vir ’n huis die eerste een aangebied sal word.” (Deur Angelique Erasmus)

1 Comment on "Munisipalteit beloof om dié besettings dringend stop te sit"

  1. Geneveve Nadine Olieslager | 03/01/2020 at 16:34 |

    The Oudtshoorn munisipality is unreliable. They make promises, that’s not been kept. My mother, turning 61 in a shelter,26 JubileeStreet,she staid at the shelter,when it 1st was a shelter maligongwe:for abused woman and children for 8/9 years then changed to a shelter for the homeless in that time the MM promised us housing, because of my children that’s also staying in the shelter daughter turning 4 in May,my son turning 14 in December. We are in year 12/13 living still in a shelter. Emails have been send to the MM,from the board members of IThemba Shelter,on when they will they assist us in giving us housing,they even stated in the emails,were houses are within Oudtshoorn of the Municipality that are not being used. But still no answer from anyone at the Oudtshoorn Municipality.

    They have no mercy for people,not even for the fact that children are being raised in a shelter,an elderly has to live in a shelter after she has been on the housing waiting list of this Oudtshoorn Municipality since the year 1993. And still not in her own home,but in a shelter.

Comments are closed.