Oudtshoorn se wonderskone waterpoel

DAAR is ’n groot netwerk ander grotte as die Kango Grotte in die Oudtshoorn-omgewing; grotte waarvan die man en vrou op straat nie weet nie.

Van dié grotte is bekend aan party natuurliefhebbers en diegene wat hulleself “grotkruipers” noem, maar volgens die wat weet, is daar baie ander grotte wat nog wag om ontdek te word. Van hulle glo selfs dit is nie onmoontlik dat ’n “tweede” Kango Grotte-reeks ontdek kan word nie.

In een van dié grotte, wat via ’n gat in die grond bereik kan word, is die wonderskone Emerald Lake, soos ’n ondergrondse waterpoel van sowat 20 meter by 12 meter bekend staan.

Volgens Johan Uys, een van Oudts­hoorn se grotkenners, is die water in die poel werklik die blou kleur en net so mooi soos sy foto’s daarvan weerspieël.

Dit is egter nie ’n ondergrondse meer nie en het sy naam klaarblyklik net gekry oor die kleur van die water daarin.

’n Mens moet sowat 12 meter van die ingang na die grotte afsak en dan nog ook ’n entjie na die waterpoel toe loop, sê hy.

Die grot is nie toeganklik vir die publiek nie en die ingang daarheen is bedek en op ’n onbekende plek.

Volgens Uys is die diepte van die poel nog nie bepaal nie.

Dit wil ook voorkom of daar verdere grotte onder die Emerald Lake is, soos sy foto’s van die mooi waterpoel duidelik toon. (Deur Liesel le Roux)