Munisipaliteit moet voor 10 Junie oor Hendricks reageer

Walter Hendricks

DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het tot 10 Junie kans om aan te dui waarom hulle nie die hofkoste van ’n Hooggeregshofsaak moet dra nie en om op die hofuitspraak te reageer.

Regter Mangcu-Lockwood het op 29 April in die Hooggeregshof op George bevind ’n onlangse raadsbesluit van 13 van die Groter Oudtshoorn se 25 raadslede om Walter Hendricks as waarnemende muni­­sipale bestuurder te verwyder, was onwettig. Sy het ’n dringende aansoek van Hendricks teen sy verwydering toegestaan en beveel dat die mu­ni­sipaliteit hom in sy posisie moet herstel soos hul kontrak met hom vereis.

Die 13 raadslede van die ANC, OGI, die PA, Advieskantoor, Saamstaan en Good het op 22 April ’n mosie om Hendricks te verwyder gesteun. Dit is teengestaan deur 12 raadslede (DA, VF Plus en Icosa) omdat die prosedure wat gevolg is om ’n senior amptenaar te verwyder, onwettig was.

Raadslid Chris Macpherson (DA) sê hy het raadslede by die vergadering gewaarsku dat die pro­ses wat hulle volg om ’n munisipale bestuurder met ’n mosie te verwyder, onwettig was. Raads­lede Johan Allers (VF Plus) en Vlancio Donson (Icosa) het albei ook bevestig dat dit die rede was waarom hul partye nie die mosie gesteun het nie.

Dissiplinêre optrede teen Hendricks op agenda
Volgens die agenda van ’n spesiale raadsvergadering wat vanoggend (Donderdag) plaasvind, is die enigste punt vir bespreking ’n voorstel vir dis­siplinêre optrede teen Hendricks. Die agenda is Maandag aan die media gestuur. Die vergadering vind egter “in komitee” plaas.

• Die proses om ’n permanente munisipale be­stuurder aan te stel, het intussen reeds afgeskop. Die pos is vroeër vanjaar geadverteer met die aanstellingsproses wat binnekort behoort te begin. (Deur Liesel le Roux)

Be the first to comment on "Munisipaliteit moet voor 10 Junie oor Hendricks reageer"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*