Pastoor Stephanus Olivier: Skuldig aan verkragting

DIE PPK-pastoor Stephanus Olivier (60) is ver­lede Donderdag (6 Mei) in die Oudtshoorn Streek­hof skuldig bevind op drie klagtes van verkragting, vier van seksuele aanranding en 26 van die besit van kinderpornografie.

Hy sal op 22 Junie gevonnis word.

Olivier, ook ’n voormalige werknemer van die Oudtshoorn Munisipaliteit, het tydens die verhoor alle getuienis teen hom as vals, absurd en belaglik af­gemaak en volgehou net hy praat die waarheid.
Streeklanddros Daniel Boks het in sy uitspraak van byna vier uur gesê die twee klaers en ander staatsgetuies was betroubare getuies, maar dat dieselfde nie van Olivier gesê kan word nie.

Die verkragting en seksuele aanranding het in 2003, 2015 en 2016 plaasgevind toe die twee klaers onderskeidelik 13 en 14 jaar oud was.

Die hof het bevind dat Olivier die eerste klaer by drie geleenthede onsedelik aangerand het toe sy vir twee weke by hom en sy vrou gebly het terwyl haar moeder nie tuis was nie – by sy huis in Van Zyl­straat, in sy munisipale kantoor in Wagenaar­straat en by die PPK-kerk. Hy het ook by twee geleenthede sonder haar toestemmings geslagsgemeenskap met haar gehad in sy kantoor en in die PPK-kerk.

Hy het haar na sy kantoor geneem en gesê dat hy haar ’n les wil leer en dat niemand haar sal glo indien sy hulle daarvan vertel nie. By die PPK-kerk het hy haar na die babakamer geneem en die deur toegemaak. Hy het aan haar gesê om “haar bek te hou” want hy is die pastoor.

Sy moes op die vloer lê en sy het by hom ge­smeek omdat sy in daardie stadium niks van seks geweet het nie, het die landdros gesê.

Die tweede klaer wat hy en sy vrou aangeneem het toe sy 13 maande oud was, het getuig dat hy haar tussen 2011 en 2015 in sy huis onsedelik aan­gerand het wanneer sy vrou nie tuis was nie. Die verkragting in sy kantoor het plaasgevind toe hy haar op twee stoele laat lê het.

Sy het hom gevra: “Wat doen Pappa?”, waarop hy geantwoord het dat sy haar nie moet bekommer nie. Onderweg huis toe het hy vir haar gesê dit is liefde maak en dat sy vir niemand moet sê nie.

Boks het gesê die twee klaers het ’n goeie indruk op die hof gemaak en selfs onder kruisverhoor by hul weergawes gehou.

Oor klagtes van kinderpornografie het die hof die getuienis van ’n deskundige as betroubaar en objektief bevind. Olivier het getuig hy weet nie hoe die pornografie op sy rekenaar beland het nie omdat dit op ’n harde skyf was en die blaam op sy kleinseun en sy ma gepak. Hy het egter erken dat hy verslaaf is aan pornografie.

Sy borgtog van R10 000 en borgvoorwaardes is tot sy vonnisdatum verleng.

Hy is in Oktober 2018 by sy huis in Wesbank in hegtenis geneem. (Deur Garnett Wicomb)

Be the first to comment on "Pastoor Stephanus Olivier: Skuldig aan verkragting"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*