Mosies van wantroue ingedien teen burgemeester en speaker

Die VF Plus en Independent Civic Organisation of South Africa (ICOSA) het twee formele mosies van wantroue op Vrydag 20 Maart 2026 in die Oudtshoorn Munisipale Raad ingedien.

Skaars ’n maand na die geslaagde mosie van wantroue teen Johan Allers (VF Plus) is nuwe mosies ingedien teen die speaker van die raad, Suzanne Jansen (PA), en die waarnemende burgemeester, Mziwoxolo Tyatya (ANC).

Johan Allers is 18 Februarie as uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn uit sy pos verwyder nadat ’n mosie van wantroue tydens ’n spesiale raadsvergadering geslaag het. Die mosie is met 11 stemme teenoor ses aanvaar, en die DA het nie aan die stemming deelgeneem nie.

Allers het na afloop van die vergadering gesê hy glo die mosie was “duidelik polities gemotiveerd” en nie gebaseer op objektiewe administratiewe of bestuursfeite nie.

Hy voer aan dat sy bestuur ernstige onreëlmatighede en moontlike bedrog blootgelê het, wat volgens hom gevestigde belange geraak het.

Mziwoxolo Tyatya het intussen as waarnemende burgemeester van die Groter Oudtshoorn gedien totdat ’n nuwe burgemeester tydens ’n raadsvergadering verkies word. Die volgende raadsvergadering vind plaas op Dinsdag 31 Maart.

Volgens die kennisgewing is die nuwe mosies ingedien ingevolge toepaslike wetgewing, insluitend die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 1998 (Wet 117 van 1998), spesifiek Artikel 40 rakende die verkiesing en verwydering van die Speaker, sowel as die bepalings oor die verkiesing en verwydering van uitvoerende politieke ampsdraers.

Die proses word verder gereguleer deur die Raad se goedgekeurde Reëls van Orde. Die mosies sal tydens ’n spesiale of gewone raadsvergadering oorweeg word volgens die voorgeskrewe prosedures.

Die VF Plus en ICOSA beklemtoon dat die kennisgewing aan die publiek gerig is om betyds, deursigtig en verantwoordbaar in te lig dat die formele proses nou in werking gestel is.

’n Volledige mediaverklaring, met verdere besonderhede en die redes vir die mosies, sal binnekort uitgereik word.

Reaksies van betrokkenes:
Speaker Suzanne Jansen (PA) het gesê: “Dit is heel eenvoudig. Ek dra nie kennis van enige mosies nie, want daar is niks vir my in persoon gegee of by my kantoor nie. Ek sien maar in die media dat daar mosies is, maar ek dra nie kennis daarvan nie.”

Namens die waarnemende burgemeester, Mziwoxolo Tyatya, het die ANC Victor Molosi streekwoordvoerder, Moyisi Magalela, gesê: “Die burgemeester het die mosie nie gesien nie en kan dus op hierdie stadium nie kommentaar lewer nie.”