Skud reg jou KKNK feesvere

Met hoë stewels, pêrels en hope persoonlikheid is die “Sexy Struisies” gereed om hul vere te skud in Oudtshoorn tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). Agter hierdie flambojante bronsfigure staan kunstenaar Alanna Botha. Lees meer oor hierdie Sexy Struisies. Foto verskaf

Lees meer oor hierdie Sexy Struisies.

Reën of sonskyn? Só lyk vanjaar se KKNK-weer

Feesgangers wat vanjaar die KKNK bywoon, moet voorbereid wees vir alles – van nat strate tot warm Karoo-son, met weerstoestande wat deur die week kan wissel.

Volgens voorspellings begin die fees op ’n koeler noot met ’n kans op ligte reën en bewolkte toestande.
Die eerste paar dae van die fees is dus ideaal vir waterstewels en sambrele, veral vir diegene wat stap tussen die verhoë en buitelugvertonings bywoon.

Modderige areas kan ook ’n rol speel, so gemaklike, waterbestande skoene is ’n moet. Daar is niks so irriterend soos nat tekkies en kouse nie.

Maar soos die week vorder, verander die prentjie dramaties. Teen die middel tot laaste deel van die KKNK word warmer, sonnige dae voorspel, met tipiese Klein Karoo-hitte wat kan opbou, veral gedurende die middag. Gelukkig is daar verskeie wegkruipplekke waar verkoelingstelsels volstoom aan die werk sal wees.

Dit beteken:
Sonhoed – ’n moet vir lang dae buite.
Sonskerm – moenie die son onderskat nie.
Sonbril – beskerm jou oë teen die skerp Klein Karoo-son.
Baie water – bly gehidreer veral as jy baie stap.

Selfs op warmer dae kan oggende en aande nog koel wees, so pak maar ’n baadjie in of hou een in jou kar.

Pak vir al vier seisoene in een week. Die KKNK bly ’n buitelugfees in die hart van die Klein Karoo – en hier kan die weer vinnig draai.

Of dit nou met reën of sonskyn is, die feesgees wag – maak net seker jy is reg daarvoor. (ANGELIQUE ERASMUS)