Sexy Struisies reg om hul vere te skud

Foto's verskaf

Met hoë stewels, pêrels en hope persoonlikheid is die “Sexy Struisies” gereed om hul vere te skud in Oudtshoorn tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). Agter hierdie flambojante bronsfigure staan kunstenaar Alanna Botha, wie se werk nie net glimlagte ontlok nie, maar ook ’n dieper verhaal vertel van veerkragtigheid en herontdekking.

Net voor die uitbreek van Covid-19 het Botha haar in Oudtshoorn kom vestig — ’n dorp wat sedertdien nie net haar tuiste geword het nie, maar ook die kern van haar inspirasie. Sy werk ook as versorger by ACVV Helen Bellinganhof Versorgingsoord, en die liefde vir die dorp en sy mense wat sy daar daagliks uitleef, vloei direk in haar kuns in. Haar beeldhouwerk is vir haar meer as estetika: dit wil vreugde bring en ’n storie oordra.

Haar jongste reeks, “Sexy Struisies”, is ’n perfekte voorbeeld hiervan. Speels en stylvol, maar terselfdertyd diep simbolies, funksioneer die struisies as ’n gelukbringer vir Oudtshoorn — ’n herinnering aan die dorp se geskiedenis, sy mense en hul veerkragtigheid. Volgens Botha vat die struisies “hulle vere terug”, gereed om weer hul vlerke te sprei.

Die volstruis het nie net Oudtshoorn se identiteit gevorm nie, maar het ook wêreldwyd inspirasie gebring. Van die ikoniese volstruisvere wat mode en dans beïnvloed het tot die simbool van uithouvermoë en veerkrag, speel die dier ’n sentrale rol in Botha se kreatiewe werk.

Die idee vir die reeks het oor tyd ontwikkel, met ’n verrassende invloed uit haar twintigs toe sy Alaska besoek het. Van Skagway in Alaska tot by Dawson City in Kanada, plekke bekend vir hul goudstormloop verlede, het die uitbundige cancan-dansers met hul vere en dramatiese kostuums haar verbeelding aangegryp.

Daardie gevoel van flambojansie en selfuitdrukking het jare later weer na vore gekom toe sy tydens Covid geskets het, selfs op ’n plaas waar sy eenkant gestaan het om die volstruise dop te hou en te teken. “Die boer het seker gewonder wat soek die vrou hier,” lag sy. Dit is juis daar waar die eerste struisies begin vorm aanneem het.

’n Besondere oomblik wat haar bygebly het, was toe iemand na haar kunswerke gekyk en spontaan uitgeroep het: “Ooh là là, flamboyant!” Volgens Botha het daardie reaksie presies vasgevang wat sy hoop mense ervaar wanneer hulle die struisies sien — ’n mengsel van verwondering en vreugde.

Sy is mal daaroor wanneer sy op afstand staan en sien hoe mense glimlag en reageer op die beelde. “Dit maak al die tyd en moeite van die skeppingsproses die moeite werd,” voeg sy by.

Die werke sal uitgestal word by Karoo Antiques in Baron van Reedestraat tydens die KKNK. Vir Botha is dit ’n besondere geleentheid om haar kuns aan ’n breër gehoor bekend te stel, veral na haar vorige uitstalling by Beans About Coffee in Kerkstraat.

Twee van haar kenmerkende karakters, Roxy en Gabriella, word vanjaar uitgestal. Roxy, die eerste en oudste van die reeks, staan uit as die lang, selfversekerde en mees flambojante figuur, kompleet met haar hoë stewels en kenmerkende houding.

Saam bring hierdie karakters energie en persoonlikheid na die reeks, amper soos moderne “gracies” met ’n sterk Karoo identiteit. Die naam en idee van die “gracies” speel speels op die Griekse mitologie van die Three Graces (grasie, skoonheid en vreugde), wat ook die elegante, vrolike en veerkragtige gees van die struisies vang.

Die keuse van brons as medium gee die werke hul tydlose kwaliteit.


Die proses verg geduld en sorg: van wasmodelle en silikonvorms tot die vervaardiging in keramiek, en dan volg die finale giet en afwerking by die Bronze Fields Foundry in Plettenbergbaai. Die resultaat is beelde vol fyn detail en karakter, elkeen uniek in sy afwerking en teenwoordigheid.

Met nuwe ontwerpe reeds in die pyplyn vir volgende jaar, is dit duidelik dat Botha se kreatiewe reis nog lank nie verby is nie. Maar vir nou staan haar “Sexy Struisies” trots —karaktervol en as ware ambassadeurs van Oudtshoorn se gees. (MALISSA SPIES)