Moordsaak teen pa, seun

DIE saak teen ’n pa en sy seun van Oudtshoorn wat van moord aangekla word is verlede Donderdag met hul eerste verskyning in die streekhof vir verhoor tot na 27 Januarie 2023 uitgestel.

Koos Stuurman (46), wat 28 vorige veroorde-lings op sy rekord het, en borgtog geweier is, staan saam met sy seun, Stilero Roman (20), tereg op ’n klagte van moord op John-Lee Johnson (23).

Johnson is op 30 Oktober 2021 in ’n winkel in Dassieweg, Bridgton, deur Roman met ’n mes in die nek gesteek nadat sy pa na bewering vir hom ’n mes gegee en gesê het om die oorledene te gaan doodsteek nadat hulle die vorige aand in ’n stryery betrokke was.

Ao Piet Hendricks het getuig dat Stuurman die betrokke dag twee pangas en ’n mes teen sy veiligheidshek vasgemaak het. Toe Johnson verbystap na ’n spazawinkel in die straat het hy vir sy seun die mes gegee en gesê, “Daar loop daai jong. Gaan tel op jou bloed en steek hom net een keer – ’n nekhou”

Nadat sy seun dit gedoen het, het Stuurman glo hande geklap.

Stuurman het in sy aansoek die hof om borgtog gevra omdat hy ’n baie jong kind het wat baie na hom verlang en hy nie meer die man van destyds is nie. Volgens hom het hy sy lewe verander en kyk nou net vorentoe. Hy staan bejaardes in sy buurt by deur werkies vir hulle te doen en wil daarmee voortgaan.

Oor sy vorige veroordelings het hy gesê dat hy sy hele lewe verander het en nie meer daardie persoon is nie.

Die staatsaanklaer, Steve Dyssel, het net soos Hendricks, borgtog teengestaan omdat die beskuldigde glo reeds van die staatsgetuies waaronder Jonathan Moos, pa van die oorledene, met die dood gedreig het. Hy het glo ook gedreig dat indien hy uit die tronk kom hy Moos se huis sal afbrand.

Landdros Stephanie Strydom het in haar uitspraak gesê dit is duidelik dat Stuurman nie sy lewe verander het soos wat hy voorgee nie en bevind dat dit nie in belang van geregtigheid sal wees om borgtog toe te staan nie.

Sy ellelange lys van vorige veroordelings is verswarend en die moontlikheid bestaan dat hy staatsgetuies kan probeer intimideer. (Deur Garnett Wicomb)